|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 22:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 71% |
| Wind: |
Halfpad deur die Wêreldhandelsorganisasie (WHO) se ministersberaad in Cancún, Mexiko, het vooruitsigte vir vordering met onderhandelings oor landbousubsidies nie juis belowend gelyk nie.
Teen druktyd het mnr. Xavier Carim, Suid-Afrika se hoofonderhandelaar, gesê die Europese Unie (EU) en Amerika toon bitter min geesdrif vir die verlaging van subsidies. Die groot twispunt bly die hoë vlakke van beskerming en subsidies vir die landbou in die ontwikkelde lande.
'n Groep van 21 ontwikkelingslande, wat saam in opstand is oor die EU en Amerika se voorstelle oor die verlaging van subsidies, het aangedring om eers beduidende toegewings op landbougebied te sien voor ander handelskwessies aangepak word.
Dié groep, wat lande soos Suid-Afrika, China en Indië insluit, wou toesien dat sy alternatiewe voorstel oor die beëindiging van onregverdige landboupraktyke as 'n werksdokument bespreek moet word.
In 'n stadium het gerugte die ronde gedoen dat Suid-Afrika van die Groep van 21 sou wegbreek, maar mnr. Alec Erwin, Minister van Handel en Nywerheid, het gesê Suid-Afrika bly tot die einde verbind tot die groep.
Volgens 'n verslag wat onlangs deur die Internasionale Instituut vir Voedselbeleidsnavorsing bekend gemaak is, verloor ontwikkelende lande jaarliks R180 miljard aan landbou-inkomste vanweë ryk lande se subsidies op landbouprodukte. In die geval van Afrika suid van die Sahara is die verlies sowat R15 miljard.
Volgens die studie is die EU se beleid verantwoordelik vir die helfte van dié verlies, Amerika se beleid vir net minder as 'n derde en die landboubeleid in Japan en ander ryk lande in Asië vir 10 %.
As beskermingsmaatreëls vir die landbou weggeneem word, sal ontwikkelende lande se landbou-uitvoere verdriedubbel.
Elke Europese koei ontvang subsidies van $2,50 (sowat R18,50) per dag, terwyl die helfte van die wêreld se bevolking met minder as $2 (sowat R15) per dag moet klaarkom. Daar is koeie wat nóg meer bederf word -- in Japan is die subsidie $7,50 (sowat R55,60) per koei.
Die regverdigheid hiervan is van die kwessies waarmee die 146 lidlande moes worstel.
19 September 2003Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24