|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 22:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 71% |
| Wind: |
Die veranderde aard van die boerdery maak dit noodsaaklik dat vroue in 'n groter mate tot die landbou toetree, het mnr. Wilco Beukes in sy presidentsrede op Agri Noordwes se kongres buite Rustenburg gesê.
Hy het verwys na verskillende groepe mense wat 'n rol in die landbou speel en met verwysing na die jeug gesê dit is sinneloos om nuwe boere van 60 jaar en ouer te vestig. Daarom sal geleenthede geskep moet word die jeug toegang tot die landbou te verseker en entrepeneurskap te ontwikkel.
Landbouopleiding moet ernstige aandag kry, veral wat landbouskole se verouderde leerplanne betref en ook die feit dat landboukolleges ten spyte van vele vertoë en aanbevelings steeds onder die jurisdiksie van landboudepartement val.
Daar moet voorts erkenning gegee word aan die land se inheemse groepe en vennootskappe versterk word vir volhoubare landbouontwikkeling.
Hy het klem gelê op die belang van goeie derdevlakregering en gesê 'n vennootskap tussen die georganiseerde landbou en die plaaslike regering is noodsaaklik. Plaaslike regerings word ernstig versoek om aandag te skenk aan doeltreffende bestuur en om te verseker dat orde en goeie infrastruktuur nie ten gronde gaan nie.
Omdat dit op hierdie terrein is waar die landbou in die toekoms die meeste belasting gaan betaal, moet hy sy stem laat hoor oor sake soos grondbelasting en munisipale heffings. "Die vlakke waarteen grondbelasting in sommige gebiede moontlik gehef gaan word, kan die einde van die landbou in Suid-Afrika beteken," sê hy.
Wat werkers en vakbonde betref, het hy 'n beroep op politici gedoen om plaasarbeid nie by die politiek in te sleep nie, maar eerder 'n helpende hand na die boer en sy omstandighede uit te steek om dit vir hom moontlik te maak om 'n beter bedeling vir sy werkers daar te stel.
"Die ergste doring in die vlees van enige boer is die Wet op Verblyfsekerheid." Agri SA sal alles in die stryd moet werp om dié drakoniese wet van die wetboek geskrap te kry, sê hy.
"Daar kan kwalik van die landbou gepraat word sonder 'n verwysing na die Strategiese Plan vir Landbou en Nepad. Japie Grobler sal dringend die inwerkingstelling van die Strategiese Plan moet nagaan sodat ons nie weer met net 'n niksseggende stuk papier sit nie."
Die waarde van goed georganiseerde drukgroepe waarvan die landbou een is, moet in die moderne wêreld nie misgekyk word nie.
Hy sê in die lig hiervan bekommer dit hom dat nie almal wat by die landbou betrokke is, bereid is om die hand in die sak te steek om die georganiseerde landbou en sy strukture te finansier nie.
Die Regering en ander leiers is goed geskool om strukture te vestig en struktuurkwessies te hanteer, "maar is daar nie ook die behoefte om te kyk na die herstel van basiese ordentlikheid en medemenslikheid en die daarstel van vaste waardes en norme nie?"
13 September 2002
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24