|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 23:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 76% |
| Wind: |
Die Nketoana-munisipaliteit in die Oos-Vrystaat gaan die hofaansoek van 'n leierboer van Reitz, mnr. Chris Boshoff, om 'n bevel dat die heffing van grondbelasting onregmatig is, teenstaan.
Bestrydende stukke in dié verband is by die hof ingedien, sê mnr. Daan Nortier van die prokureursfirma Naude's in Bloemfontein, wat die saak in opdrag van Vrystaat Landbou hanteer.
Die staatsprokureur het kennis gegee dat die Minister van Provinsiale en Plaaslike Owerheid, mnr. Sydney Mufamadi, ook tot die geding gaan toetree. 'n Advokaat in Pretoria het opdrag gekry om die minister se betoog voor te berei.
Mnr. Nortier sê Vrystaat Landbou word deur mense landwyd oorval om inligting oor die hofsaak te kry. Navrae word veral ontvang van boere waar munisipaliteite stappe begin doen om belasting in te stel. Die manier waarop die munisipaliteite dit doen, is omstrede, want dit lyk asof waardasies van kaarte af gedoen word.
Mnr. Borrie Erasmus, Vrystaat Landbou se woordvoerder oor plaaslike regering, sê die Minister van Finansies, mnr. Trevor Manuel, het 'n omsendbrief aan alle munisipaliteite gestuur waarin hulle gemaan word om versigtig te wees met die instel van grondbelasting. Enige munisipaliteit wat nuwe belastingpligtiges wil belas, moet die voorneme eers aan hom voorlê.
Vrystaat Landbou gaan vir die regskoste van die hofsaak betaal en het 'n regshulpfonds gestig. Sowat R200 000 is al ingesamel. Die Annasrust-studiegroep van Bainsvlei by Bloemfontein het R8 000 tot dié fonds bygedra. Bydraes kan in die Absa-tjekrekening, nommer 9103816963, betaal word.
26 September 2003Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24