'n Massa giftige mynwater kan binne dae die Vaalrivier-stelsel invloei en mense, diere, die omgewing en die landbou ernstig skaad. Dié water staan ook as suurwater bekend en het ou goudmyne wes van Johannesburg oorstroom.
Natuurlike grondwater word suur wanneer dit in ou myne invloei waar dit swaar metale soos uranium en yster oplos. Dit is in dié vorm wat dit 'n ernstige bedreiging vir die omgewing inhou. In die verlede het 'n oorstroming van giftige mynwater tot die radioaktiewe besmetting van die Robinson-meer naby Randfontein in Gauteng gelei wat dié populêre visvang- en piekniekplek in 'n lewelose gebied verander het.
Die spoedige styging van die betrokke watervlakke kan deels aan die sluiting van 'n waterbehandelingsaanleg buite Randfontein toegeskryf word. Die aanleg is gesluit vanweë die stryd tussen die regering en mynmaatskappye rakende die koste van die skoonmaak van die giftige gemors wat deur myne agtergelaat word.
Die suurwater vul reeds twee groot ondergrondse grotte asook 'n massiewe ondergrondse spasie wat honderde kilometers tussen Krugersdorp en Randfontein en is tans 'n halwe meter van die oppervlakte. Dit behoort binnekort in die Vaalrivier in te loop. Die dreigende krisis het onderhandelings tussen die regering en myne ontketen.
Die kern van die probleem is nuwe waterbestuursriglyne wat vanjaar vrygestel is wat stipuleer wat myne alle gebruikte water wat in riviere teruggepomp word skon genoeg moet wees om te drink. Tot nou het myne die water slegs deels gesuiwer en in riviere ingepomp.
Myne hou vol dat dit sowat R550 miljoen sal kos om 'n aanleg op te rig om water te suiwer en die Regering hou vol dat hulle wel verantwoordelik is om dit te doen. Mintails, DRD Gold en Rand Uranium is die betrokke maatskappye.
Bron:
The Times
29 Junie 2009
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)