Hoekom is melk nie tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi bemark nie? Waar was die Bafana Bafana-speler met ‘n “melksnor”, vra ‘n melkboer.
Ja goeie idee wat julle hier bo noem. (Hy skryf hier oor wat boere moet doen om self verwerking te kan doen - Red.) Ongelukkig is daar 'n paar van ons wat nie naby die dorp of groot stede is nie. Dit en die infrastruktuur vir die verwerking van melk maak die kool nie die sous werd nie. Selfs net om melk te pasteriseur en in 'n tenk by 'n kafee/kleinhandelaar te gaan aflaai is al klaar 'n besigheid op sy eie.Verder kan jy nie die koeie afskakel in die dooie (derde) week van die maand nie. Wat maak jy dan met die melk? Soos ek al hier bo gesê het "been there, done that".
Dit wil voorkom of die MPO bietjie gevoelig is, wat goed is. Dit wys hulle let op, want sedert ek hier bo geskryf het het ek 'n oproep van hulle ontvang. Ek het 'n paar planne vir hierdie melksituasie. Eerstens kan ek nie glo dat die lae mielieprys vir die baie melk verantwoordelik is nie. Dis winter en die grootste melkstreek in die land is nog steeds droog. Almal hier rondom my produseer minder melk, so waar maak hulle die meer Koeisap?
Generiese bemarking
Ek het al 'n gesprek met dr. Koos Coetzee van die MPO gehad oor generiese bemarking, maar volgens hulle is die boere nie bereid om daarvoor te betaal nie. Het die MPO al 'n begroting op die tafel gesit vir wat dit die MPO sal kos om melk se verbruik te bevorder? As daar dan 'n oorskot is moet die verbruik verbeter. Ons het 'n gulde geleentheid met die sokker wêreldbeker laat verbygaan om die verbruik van melk te bevorder. Ons het net een foto van 'n gewilde sokkerspeler met 'n "melksnor" nodig om die verbruik bietjie aan te wakker. Ek het gehoor hoe Thys Swart vertel het hoe onkundig die mense in die stede is oor die hele melkbedryf ná die landbou-uitstalling in die Kaapse Konferensiesentrum. Moet ons nie liewer daar begin nie? Voed die verbruiker op, dan drink hulle meer melk.
Dit sal nou interessant wees om te sien met hoeveel Parmalat-produkte se rakprys sak ná sy produsente se 30 sent prysverlaging. Miskien moet die produsente van die kopers wat só pryse laat sak, hul melk net so vir 'n week langs die pad of in die dorp/nedersettings gaan verkoop. Dis natuurlik onwettig om rou melk te verkoop, maar "desperate times calls for desperate matters". Breek net die ketting vir so 'n week, dalk kom die kettinwinkels agter waar melk vandaan kom of nie kom nie.
Dis moeilik, maar dis soos om botter met 'n warm naald in 'n ystervark se agterend op te druk, dit is moontlik.
Melkgroete,
Henry May
Lees ook Melkboerdery is oop tronk
30 Julie 2010
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)