|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 23:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 76% |
| Wind: |
Suid-Afrika boer agteruit met landbou-navorsing. Dit is onder meer weens 'n skerp afname in navorsers asook 'n ernstige gebrek aan politieke leiding van die Minister van Landbou. 'n Keerpunt is bereik en voorstelle word gedoen vir 'n nuwe bedeling vir navorsing.
Noudat Suid-Afrika sy tweede dekade van demokrasie binnegaan, staan landbounavorsing in die land weer by 'n kruispad - dringende optrede is nodig om op 'n geskikte, doeltreffende en volhoubare nasionale navorsingstelsel vir die landbou te besluit. Só 'n stelsel moet die oogmerke van armoedeverligting en voedselsekerheid aan die een kant, en groter mededingendheid en winsgewendheid aan die ander kant, in ag neem.
Ná die onlangse implementering van die nuwe nasionale navorsings- en ontwikkelingstrategie word sekere wetenskaprade weer die volle administratiewe verantwoordelikheid van die betrokke lynfunksiedepartemente. Daarom herposisioneer die Departement van Landbou hom tans vir hierdie verantwoordelikheid. Hy beoog om alternatiewe opsies vir die doeltreffende koördinering, finansiering, ontwikkeling en toesig vir die nasionale landbounavorsingstelsel te ondersoek.
Dit bied die departement die geleentheid om te kyk na die oorsake van die probleme wat weens die onvoldoende nasionale ko-ordinering, inkonsekwente beleid en institusionele raamwerke ervaar word.
Dit is duidelik dat die manier waarop die nasionale navorsingstelsel tans gestruktureer is en gefinansier word, tot die verkeerde keuse van voorrangsake en 'n algemene gebrek aan doeltreffendheid gelei het.
Daar moet egter van die begin af gesê word dat dit nie duidelik is wat die politiek se rol in die hervorming van die stelsel is nie. Dit is bekend dat die amptenare in die departement besef iets moet gedoen word. Die Minister van Landbou het nog nie haar siening oor die rigting van en behoefte aan verandering in die openbaar gelug nie.
In dié artikel word die behoefte aan verandering kortliks geïllustreer en verduidelik wat as 'n werkbare, toekomstige bedeling vir landbounavorsing in Suid-Afrika beskou kan word.
Staatsgefinansierde landbounavorsing in Suid-Afrika het die afgelope eeu baie verander. Die Departement van Landbou is met die totstandkoming van die Unie van Suid-Afrika in 1910 geskep uit die 18 afdelings van die voormalige twee Boererepublieke en twee Engelse kolonies.
Van 1910 tot 1958 is dié afdelings uitgebrei met die oordrag van vier landboukolleges en drie -fakulteite van die Departement van Onderwys aan die Departement van Landbou, asook die stigting van nuwe landboukolleges en landboufakulteite.
In 1958 is die Departement van Landbou verdeel in die Departement van Landboutegniese Dienste en die Departement van Landbou-Ekonomie en Bemarking. Die Departement van Landboutegniese Dienste is in 1962 herstruktureer. Twee direktorate, die Direktoraat van Landbounavorsing en die Direktoraat van Velddienste, is saamgevoeg en het die verantwoordelikheid vir 10 nasionale navorsings- en 7 ontwikkelingsinstitute asook 3 diensafdelings aanvaar. Dié tydperk is gekenmerk deur 'n sterk sentralisering van landboufunksies onder die streng administratiewe beheer van die Departement van Landbou.
Dié sentralisering is in die 1970's en 1980' herorganiseer waardeur sekere kom-ponente van die nasionale landbounavor-singstelsel meer seggenskap in hul bedrywighede verkry het. In 1970 is die administratiewe verantwoordelikhede van die fakulteite vir landbou asook veeartsenykunde aan die Ministerie van Onderwys oorgedra. Die Departement van Landboutegniese Dienste het steeds navorsing aan die universiteite gefinansier. In 1980 het die direktorate van landbounavorsing en van velddienste saamgesmelt om die Departement van Landbou en Visserye te vorm, wat in 1982 tot die Departement van Landbou en Watervoorsiening herdoop is.
Met die groter beskikbaarheid van landbounavorsingsdienste aan ander rassegroepe asook die uitgebreide deregulering en pogings om staatsdienste te privatiseer, is die meeste navorsingsbedrywighede in April 1992 aan die Landbounavorsingsraad (LNR) oorgedra. Dit was ná aanvaarding van die Wet op Landbounavorsing van 1990. Die proses om die institute en kleiner navorsingseenhede na die LNR oor te dra, is eers in 1995 afgehandel.
In 1997 is die nasionale innoveringstelsel begin vir alle institute vir wetenskap, ingenieurs en tegnologie onder die Regering se beheer. Navorsing by die provinsiale departemente val buite hierdie beleid, wat alle wetgewing vervang het wat op individuele wetenskapsrade van toepassing was. Vir die LNR het dit beteken dat die nuwe riglyne alle voorheen ooreengekome beginsels vir die gesamentlike finansiering van navorsing en vennootskappe met die private sektor vervang het.
Hierdie proses het die kommunikasielyne met die betrokke lyndepartement asook met kliënte laat verbrokkel. Ingevolge verklaarde beleid oor gesamentlike finansiering van landbounavorsing (100 % van projekkoste), het Suid-Afrika wegbeweeg van internasionaal aanvaarde beginsels vir navorsingstelsels met soortgelyke strukture. In Australië dra boere en die Regering byvoorbeeld by tot die finansieringspoel in die vorm van gelyke skenkings.
Hiermee is die proses voltooi om die nasionale verskaffer van die landbounavorsingsdiens en sy kliënte te isoleer. Sedertdien is die kritiek op die LNR meer die simptome van 'n gebrek aan riglyne en duidelike leiding weens die nuwe beleid wat die nasionale navorsingstelsel volg.
Benewens 'n daling in finansiering, is dié stelsel se vermoë om navorsingsuitsette te lewer, ook geraak deur die groot uitvloei van sleutel-navorsingspersoneel sedert 1993. Die tabel toon hierdie neiging vir sekere kategorieë navorsingsagentskappe van 1993 tot 2000. Die uitvloei van navorsers het grotendeels plaasgevind in openbare navorsingsdienste, met die nasionale staatsinstitute wat die grootste verlies aan heeltydse navorsingspersoneel gely het.
Sedert 2000 het die LNR nóg 234 navorsers verloor weens aftrede en bedankings. Dié afname van 40 % binne drie jaar het ernstige implikasies vir die raad se vermoë om sy prestasies van die verlede te handhaaf. Destyds, toe die LNR gestig is, is beraam dat 'n basis van 750 navorsers nodig sou wees om sy funksies te vervul.
Die afname van 'n heeltydse ekwivalent van 121 navorsers by die provinsiale landboudepartemente verteenwoordig 605 mense omdat provinsiale navorsers sowat 20 % van hul tyd aan navorsing bestee.
Die LNR, en die nasionale navorsing-stelsel in die algemeen, dekapitali-seer teen 'n kommerwekkende tempo wat sy navorsers se vermoë betref.
Sonder die sentrale monitering van neigings in finansiering, menslike hulpbronne en dienslewering in die stelsel, is daar geen sen-trale aantekeninge van die nasionale landbounavorsingstelsel se vermoë nie. Dit lei tot 'n gebrek aan koördinering en deursigtigheid, wat ruimte skep vir minder toerekeningsvatbaarheid by bestuurders en besluitnemers in die stelsel.
Ná hersiening van die nasionale wetenskaps- en tegnologiebeleid in 1996, en van die LNR in 1997, is die raad se struktuur en bestuur gewysig. Die kommersialisering van navorsingsuitsette is beklemtoon deur inisiatiewe om koste te verhaal vir alle navorsingswerk en dienste ten einde die tersaaklikheid en gehalte van navorsing te bevorder. In reaksie hierop is navorsing meer op swart bestaansboere gerig. 'n Afsonderlike program is geskep om die probleme en behoeftes van arm boere in agtergeblewe gemeenskappe aan te pak.
Die opeenvolgende beleidsveranderinge, saam met veranderinge in die leierskorps ná 1999, het die LNR nóg verder van sy belanghebbendes verwyder. 'n Reeks vergaderings met provinsiale landboudepartemente en verteenwoordigende landbou-instansies is gereël.
Met die insig wat daaruit verkry is, is 'n nasionale landbounavorsingsforum in Mei 2002 gestig. Dié forum moes oplossings soek vir die beleidsbeperkings wat die nasionale landbounavorsingstelsel in die gesig gestaar het. Hierdie proses sloer al lank en dit lyk nie of die Departement van Landbou die herstrukturering verder kan voer sonder duidelike politieke steun en leiding nie.
Herstrukturering nodig
Die probleem met die huidige landbounavorsingstelsel is dat daar nie 'n enkele openbare instansie is wat die vermoë het om dié stelsel te koördineer nie. Dit is omdat almal betrokke is by navorsingsdiensverskaffers en dus in wese met mekaar meeding.
Die LNR behoort herstruktureer te word in 'n toesighoudende raad, sonder uitvoerende navorsingsmagte, met die opdrag om die stelsel se prestasies te kontroleer en te evalueer en die aanwysing van voorrangsake op 'n nasionale en provinsiale vlak te reël deur middel van 'n stel nasionale programme.
Die beplanningsproses hiervoor sal 'n stel adviespanele (wat op bestaande navorsingsbeplanningsliggame in die bedryf steun) moet insluit. Só 'n raad sal dan die minister van advies voorsien oor navorsings- en ontwikkelingsbeleid, gegrond op 'n behoorlike ontleding van die saak voor hande. Die sekretariaat van hierdie raad kan bestaan uit uitgelese wetenskaplikes vir elke program.
'n Algehele regruk van die institusie en 'n nuwe leierskapstruktuur het nodig geword. Kwessies, soos navorsingsfokus en -voorrangsake, en daarmee saam strategieë vir die toepaslike vlakke van finansiering en die ontwikkeling van vermoë sal volg sodra die geskikte bestuursraamwerk gereed is. Dié kwessies kan nie aangeroer word tensy die institusionele en bestuursraamwerk die volledige en toepaslike deelname van belanghebbendes op alle vlakke moontlik maak nie.
Die proses behoort, breedweg beskou, soos volg te lyk:
BKry die institusionele strukture, soos hier voorgestel, gereed - behoorlik goedgekeur deur die nodige veranderinge aan die Wet op landbounavorsing.
BStel die nuwe raad aan vir die nuwe, hersaamgestelde LNR, wat nou net 'n toesighoudende en raadgewende liggaam is. Die raad sal vervolgens 'n drasties afgeskaalde sekretariaat aanstel. Die Hatfield-kantoorgebou kan die nuwe LNR huisves.
BDie nuwe raad sal, deur sy sekretariaat, die proses begin om die programkomitees en adviespanele saam te stel. Die boublokke vir dié groepe bestaan reeds in die een of ander vorm in die stelsel, hulle moet net georganiseer en bemagtig word.
BHierdie liggame sal die nodige ontleding doen oor watter rigting navorsing moet inslaan, die kapasiteit wat nodig is asook begrotingsbehoeftes.
'n Deel van dié sekretariaat behoort enkele mense in te sluit wat 'n proses van beleidsontleding en -formulering sal bestuur oor kwessies, soos finansieringsmodelle, intellektuele eiendomsreg, aansporingskemas, mededingende bod-geld, bestuurstrukture en monitering- en evalueringstelsels vir die nasionale landbounavorsingstelsel.
Dié kwessies kan op die onderskeie forums bespreek word en aan die minister voorgelê word sodat sy dit kan oorweeg en aan die Kabinet kan voorlê as sy dit goedkeur. As dit later tot 'n verdere ronde wysigings aan die Wet op Landbounavorsing lei, dan moet dit so wees.
Sektorplan sal visie lei
Die ontwerp en implementering van die nuwe institusionele en finansieringsraamwerk vir 'n landbounavorsingstelsel sal deur die visie van die landbousektorplan gelei word, naamlik " 'n verenigde en vooruitstrewende landbousektor".
In navolging van hierdie visie, behoort 'n nuwe institusionele en finansieringsraamwerk vir die navorsingstelsel die volgende kenmerke hê:
B'n Nasionale koördinerende liggaam sonder enige navorsings- of geldtoewysingsfunksie. Sy hooffunksies sal die beplanning, monitering en evaluering van programme wees om die bepaling van prioriteite binne 'n aantal nasionale programme (landelike ontwikkeling, bestuur van natuurlike hulpbronne en drie kommoditeitsprogramme) te help vlot. Hy sal ook die take ten opsigte van die beplanning, monitering en evaluering van die programme met behulp van 'n sekretariaat ondersteun.
Dié liggaam kan ook as voorsitter optree vir die onderskeie programkomitees wat van tyd tot tyd die vordering van navorsingsprogramme hersien en nuwe inisiatiewe formuleer om leemtes te ondersoek.
BNasionale en streeksinstitute, elk met adviesforums saamgestel uit kundiges uit voormalige en bestaande instansies in die bedryf en die akademie.
BDie Departement van Landbou dra die administratiewe verantwoordelikheid vir alle nasionale institute en die sekretariaat van die nasionale liggaam. Oor bedryf- en beleidsake en sake van belang vir spesifieke institute, doen hierdie eenhede egter verslag aan hul onderskeie adviesforums, wat aan die nasionale koördineringsliggaam en die Departement van Landbou verslag doen. Die nasionale koördineringsliggaam sal aan die Minister van Landbou verslag doen.
BDie diensvoorwaardes van werknemers van nasionale institute sal deur die Departement van Landbou bepaal word ingevolge 'n dienspakket spesifiek vir navorsers ontwerp.
Die praktiese implikasies van hierdie hooftrekke is dat die kern van die LNR se sentrale kantoor sal dien as sentrum vir die skepping van 'n volwaardige sekretariaat vir die nasionale landbounavorsingsraad, met 'n raad wat saamgestel is op dieselfde beginsels vir verteenwoordiging as die dagbestuur van die nasionale landbounavorsingsforum.
Die nuwe LNR-sekretariaat en -raad moet vennootskappe tussen navorsingsdiensverskaffers help reël sodat die skaars geld en menslike hulpbronne in die land doeltreffend aangewend kan word om nasionale navorsingsvoorrangsake te bereik. Hiervoor kan die LNR-sekretariaat 'n proses van programbeplanning en -monitering op nasionale vlak van stapel stuur deur middel van 'n stel nasionale navorsingsprogramme.
Die Wet op Landbounavorsing behoort gewysig te word om voorsiening te maak vir die stigting van landbounavorsings- en landbouontwikkelingsentrums om die huidige LNR se institute te vervang, wat in vennootskap tussen die Departement van Landbou en die adviesforums (met inbegrip van produsente en kommoditeitsorganisasies) bestuur kan word.
Die landbounavorsings- en landbou-ontwikkelingsentrums sal wesenlik outonome instellings wees, elk onder bestuur van 'n adviesforum. Dit moet ook voorsiening maak vir die oordrag van personeel na universiteite waar en wanneer dit ook al meer geskik geag sou word.
Finansiering vir die institute kan verkry word deur 'n landbounavorsingsbelasting (heffing) op plaasverkope en 'n gelykwaardige toekenning van die Departement van Landbou. Elke instituut sal toegelaat word om 'n reserwefonds te hê.
Geld vir wetenskaplike landbounavorsing kan verseker word deur die skepping van 'n nasionale landbounavorsingsfonds uit jaarlikse bydraes (belasting of statutêre heffing) van produsente- of kommoditeite-organisasies asook toekennings deur die Departement van Landbou en provinsiale landboudepartemente.
Die fonds moet gesamentlik deur die Departement van Wetenskap en Tegnologie, die nasionale landbounavorsingsforum en die Departement van Landbou bestuur word. Voorrangsake sal aangedui word deur die programme van die nasionale landbounavorsingsforum.
Die huidige parlementêre toekenning aan die LNR behoort aangewend te word om 'n nasionale landbounavorsingsfonds asook sekere duidelik aangewese wetenskapsbates wat die onderskeie diensverskaffers in die nasionale landbounavorsingstelsel tans het - nie net dié van die huidige LNR nie - te finansier.
Verder word voorgestel dat die LNR nou, via die Minister van Landbou, regstreeks in besonderhede aan die parlement sal verslag doen oor voorrangsake, uitgawes en navorsingsuitsette.
11 November 2005
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24