|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 23:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 76% |
| Wind: |
Die SA Voerkraalvereniging sê 'n onlangse uitsending van die TV-program, Special Assignment, oor die voeding en versorging van lewende hawe is 'n "growwe wanvoorstelling" van die plaaslike vleisproduksiebedryf.
Mnr. Dave Ford, uitvoerende direkteur van die vereniging, sê die program het 'n uitstekende geleentheid gebied om verbruikers te wys hoe doeltreffend en veilig vleis wel in Suid-Afrika geproduseer word. "Die vervaardigers van die program het egter besluit om sensasioneel te wees en die program was gestroop van alle diepte en fokus.
"Die goeie bedoelings en die integriteit van die betrokkenes in die vleisproduksieketting oor dieregesondheid en voedselveiligheid is verdag gemaak." Hy sê die vervaardigers van en deelnemers aan die program se kennis oor die werklike toedrag van sake is gebrekkig.
Mnr. Ford het gesê die vereistes en gedragskodes, soos deur die bedryf saamgestel en deur die Nasionale Dierebeskermingsvereniging onderskryf word, is nie in die program genoem nie. "Hierdie vereistes bepaal die hantering van lewende hawe tydens vervoer, produksie, behandelings en die slagproses."
Internasionale farmaseutiese maatskappye bestee jaarliks miljoene rande aan toetse om te verseker dat hul produkte aan internasionale vereistes van organisasies soos die Amerikaanse Food and Drug Agency voldoen. Dit is nie net om die veiligheid en die gemak van slagdiere en die voorgeskrewe onttrekkingstydperk te verseker nie, maar ook die veiligheid van die gebruiker. Dié feite is nie in die program genoem nie.
Dit is ook nie genoem dat elke middel wat in die produksie van Suid-Afrikaans vleis gebruik word, deur die Regering goedgekeur moet word nie.
Mnr. Ford het beklemtoon dat lewendehaweproduksie in al sy vorme kapitaal-intensief is met baie lae winsgrense.
Net met die hoogste vlak van doeltreffendheid kan sulke ondernemings slaag. Geen dier wat mishandel word of ongemak verduur, kan doeltreffend produseer nie.
13Desember 2002Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24