‘n Ondersoek na die watergehalte in die Waterberg word gedoen om ekologiese aanwysers te ontwikkel voor nuwe kragstasies en steenkoolmyne op groot skaal met bedrywighede in dié gebied begin. Die TLU SA wil dié ondersoek uitbrei om die vlak van besoedeling in Limpopo se riviere deurlopend te monitor.
Volgens dr. Paul Oberholster, projekleier en senior navorser van die WNNR, is die ondersoek na watergehalte in die riviere van die Waterberg van belang omdat dit ’n databasis skep waarmee toekomstige besoedeling gemeet kan word. Groot industriële ontwikkelings word in dié gebied beoog en daar heers ernstige kommer oor die volhoubaarheid van waterbronne.
“Die ondersoek het begin voor hoë vlakke van besoedeling plaasgevind het en toon dat die Waterberg geseënd is met skoon water,” het Oberholster gesê. Daarenteen is die meeste van die 15 proefgebiede in die Olifantsrivier sowat 95% besoedel weens langdurige mynboubedrywighede. Riool en landbouchemikalieë kom ook in die rivier voor.
’n Beduidende opbou van blou-groen alge – ’n teken van water van lae gehalte – is in die laaste week van Januarie in die Loskopdam waargeneem. Dít het reeds in November verlede jaar begin en krokodilvrektes het in dié tyd weer voorgekom, sê hy.
Volledige bevindinge van die studie sal waarskynlik in Maart bekend gestel word.
Lees ook:
8 Februarie 2010
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)