|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 23:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 76% |
| Wind: |
Besproeiingsboere van die Mokolo-opvangsgebied by Lephalale in Limpopo is erg onthuts oor “eensydige uitsprake” deur die Departement van Waterwese en Omgewingsake dat hul waterregte moontlik vir Eskom se beoogde kragsentrales “gehuur” gaan word.
Dít totdat die pyplyn wat water van die Krokodilrivier moet bring, voltooi is. Die proses kan tot ses jaar duur. “Daar is nie ekstra water nie. Dit beteken dit word van boere verwag om op te hou boer solank as wat Eskom die water nodig het,” sê mnr. Francois van den Berg, voorsitter van Agri Lephalale.
Waterwese het aanvanklik planne beraam om die Krokodilrivier se swak water in die Mokolodam te pomp om die volume te verhoog. Boere het egter ’n stokkie daarvoor gesteek sodat die Mokolodam se gehaltewater verseker word.
“Boere betaal al die afgelope 30 jaar lank vir hul waterregte. Nou word dit afgeneem en hulle moet met hul tyd en geld baklei om dit te beskerm,” het Van den Berg gesê. Dr. Mark Berry, eienaar van ’n private natuurreservaat in die gebied, het appél aangeteken teen Waterwese se goedkeuring van Eskom se kragsentrale.
Hy sê die departement het die voorsiening van water aan die sentrale nie behoorlik ondersoek en verseker nie. Omgewingsimpakstudies behoort deur ’n onafhanklike entiteit van kundiges oorweeg te word en nie deur staatsdepartemente wat mekaar ter wille is nie.
“Wie gaan Waterwese vervolg as hy die Waterwet van 1998 nie na behore geïmplementeer het nie?” wil hy weet.
2 Desember 2009
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)