|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 23:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 76% |
| Wind: |
Die Voedselprysmoniteringskomitee (VPK) sê dit is verbasend dat die pryse van produksiemiddele, soos saad, kunsmis en chemikalië, bly styg en dat daar geen verligting vir boere is nie.
Prof. Johann Kirsten, voorsitter van die komitee, het op 'n nuuskonferensie in Pretoria gesê ondanks wisselkoersveranderings het die pryse van hierdie produksiemiddele bly styg teen 'n koers van tot 20 %. In dié stadium probeer die VPK nog 'n verduideliking van vervaardigers kry oor die redes vir die stygings.
Hy het voorlopige besonderhede oor neigings in voedselpryse bekend gemaak. Dit spruit uit die ondersoek wat in Januarie deur me. Thoko Didiza aangevra is, ná verlede jaar se skerp styging in voedselpryse.
Hy het gesê voedselinflasie (die koers waarteen voedselpryse styg) het vanjaar gedaal van 20 % tot sowat 7 % of 8 %. Nogtans is dit moeilik om 'n algemene neiging vir al die kommoditeite vas te stel.
Die meeste voedselpryse lyk of dit weer terugkeer na vorige gemiddeldes, maar daar is ook produkte wat kommer wek soos suiwelprodukte, suiker en kookolie.
Hy sê die ondersoek na die pryse van produksiemiddele het eers in 'n laat stadium begin ná versoeke van die landbougemeenskap, en hulle kan nog net enkele informele waarnemings uit data maak.
Prof. Kirsten sê baie vervaardigers het die wisselkoers as verskoning gebruik vir skerp prysstygings in 2001/02. Ondanks die verstewiging van die rand, is daar pryse wat vanjaar bly styg het.
Daar is kommer oor verpakkingsmateriaal, landbou-chemiese en kunsmismaatskappye, papier- en kartonvervaardigers, landboumasjinerie, verskaffers aan voedselverwerkers, en produkte soos glukose en sigorei. Al hierdie bedrywe, maatskappye en produkte word ondersoek.
"Verbruikers kan dink dat die pryse van produksiemiddele nie belangrik is nie, maar as 'n mens na die nuwe seisoen kyk en die produksiekoste van mielies is R1 000/ton, terwyl boere net R850/ton kry, kan dit tot 'n afname in aanplantings lei. Dit sal weer 'n invloed op kommoditeitspryse en kleinhandelpryse hê."
26 September 2003Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24