|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 23:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 76% |
| Wind: |
Dit maak ekonomies sin vir boere om hul werkers net in kontant te betaal soos wat in die minimum loon vir plaaswerkers voorgeskryf gaan word en dit dan aan die werkers oor te laat om self hul lewensmiddele te koop.
Die Regering moet besef dat die werkers dan die verloorders gaan wees, want "almal weet dat 80 kg mieliemeel sowat R220 kos", het mnr. Cassie Müller, nuwe ondervoorsitter van Vrystaat Landbou, op die kongres in Bloemfontein gesê.
Hy het gesê 'n minimum loon hou gevaar in vir nuwe werksoekers wat nie oor vaardighede en werketiek sal beskik nie. Hulle kan dan nie die minimum loon ontvang nie en sal moeilik toegang tot die arbeidsmark kry.
Daarom het die arbeidskomitee van VL aanbeveel dat leerlingskappe aan nuwe toetreders gegee moet word en dat hulle 50 % van die minimum loon in die eerste jaar ontvang, 75 % in die tweede jaar en die volle bedrag in die derde jaar.
Mnr. Müller het gesê na verwagting sal die minimum loon op die Aardeberaad van 24 Augustus tot 4 September in Johannesburg bekend gemaak word. Die georganiseerde landbou het ná deeglike oorweging slegs een vlak van R500 per maand vir alle streke en bedrywe voorgestel. Die Departement van Arbeid het die finale dokument op 31 Julie bespreek en vir goedkeuring aan die minister voorgelê.
Die georganiseerde landbou verwelkom dit dat die minimum loon eers ses maande ná publikasie in die Staatskoerant opdwingbaar gemaak sal word. Dit sal dus waarskynlik op 1 April volgende jaar in werking gestel word.
Dit wek kommer dat wetgewing arbeid in die landbou al hoe meer reguleer, terwyl ander bedrywe gedereguleer word.
Mnr. Müller het gesê dit wek ook kommer dat die waarde van huisvesting en in natura-vergoeding wat van die kontantloon afgetrek kan word, net 10 % elk is. "Ons weet die werklike waarde is baie hoër. Daarom het die arbeidskomitee aanbeveel dat dit gesamentlik 30 % moet wees."
23 Augustus 2002Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24