|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 23:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 76% |
| Wind: |
Amper drie keer meer stropers, 136 % meer balers en 50 % meer trekkers is in Mei verkoop teenoor dieselfde maand verlede jaar. Die verwagting is dat die sterk vraag na landbouwerktuie tot in die derde kwartaal vanjaar sal voortduur.
Die 423 trekkers wat in Mei vanjaar verkoop is, is 48,9 % meer as in Mei verlede jaar, die 45 stropers is 164,7 % meer as die 17 verlede jaar en die 26 balers is 136,4 % meer as die 11 van verlede jaar in Mei. Tot nou toe is vanjaar 21,5 % meer trekkers, 78,8 % meer stropers en 82,2 % meer balers verkoop as in dieselfde tydperk van verlede jaar.
Volgens mnr. Pieter le Grange, voorsitter van die SA Landboumasjinerie-assosiasie, het verskeie vervaardigers 'n tekort aan voorraad in die begin van die jaar gehad. Die tekorte word nou aangevul wat die huidige verkoopsyfers hoër laat lyk. Daar is nietemin 'n sterk vraag in die mark wat waarskynlik tot in die derde kwartaal sal voortduur waarna dit na verwagting sal afplat.
Die groot vraag word grootliks daaraan toegeskryf dat aanduidings is dat rentekoerse nog laag gaan bly en die feit dat werktuigpryse of bestendig bly of laer neig.
25 Junie 2004
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24