Wes-Kaap kry buffer teen Slenkdalkoors

 

‘n Buffersone is in die Murraysburg-omgewing geskep om te keer dat Slenkdalkoors na die Wes-Kaap uitbrei.

Mnr. Gerrit van Rensburg, die LUR vir landbou en landelike ontwikkeling in die Wes-Kaap, het aangekondig dat sy departement voorkomende maatreëls tref ten opsigte van Slenkdalkoors wat tans in die Vrystaat en Noord-Kaap aangetref word. Meeste diere, voëls uitgesluit, kan besmet word. Mense is ook vatbaar vir hierdie virus.

“Slenkdalkoors is tans so ver suid as Colesberg in die Noord-Kaap, en ek is bekommerd dat die Wes-Kaap volgende is. Ons is besig om ‘n buffersone in die Murraysburg omgewing te skep deur diere op hoë risiko plase in te ent”, het Van Rensburg gesê.

Die Wes-Kaapse departement van landbou het 10 000 eenhede lewendige entstof aangekoop en is tans besig om dit strategies toe te dien. ‘n Verdere bestelling van 25 000 eenhede dooie entstof is ook reeds geplaas.

Van Rensburg raai boere aan om hul diere weg te hou van areas met baie muskiete. Dit sluit in laagliggende areas, panne, vleie en damme. Hoë waarde diere kan selfs met muskiet-werende middels behandel word. Mense met navrae kan die Wes-Kaapse veeartsdienste skakel by 021 808 5001 of 021 808 5052.

* Intussen lui 'n berig op Volksblad se webwerf dat 20 mense in die sentrale deel van die land reeds Slenkdalkoors opgedoen het. Honderde stuks vee het reeds daarvan gevrek.

13 Maart 2010
 

0
 
 

Kommentaar

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.