Heelwat belangstellende boere, landbounavorsers en verteenwoordigers van meganisasie-, landbouchemiese en saadmaatskappye het 'n vergadering, waartydens die stigting van ‘n geenbewerkingsvereniging vir die Wes-Kaap bespreek is, bygewoon.
‘n Loodskomitee, bestaande uit boere en landbounavorsers, is op die vergadering gekies om ‘n grondwet vir die vereniging op te stel en die vereniging se werksaamhede aan die gang te kry. Die komitee se eerste vergadering is reeds op 17 Junie.
By die vergadering het dit duidelik na vore gekom dat boere enersyds geleenthede soek om geenbewerking en bewaringsboerdery prakties op plase te sien, en andersyds bereid is om hul kennis en ondervinding met medeboere te deel.
Steun van departement
Dr. Ilse Trautmann, hoof van tegnologie, navorsing en ontwikkeling by die Wes-Kaapse departement van landbou, het by die vergadering gesê die Wes-Kaapse geenbewerkingsvereniging is nie die eerste in die land nie, maar dit pas baie goed in by nasionale en provinsiale doelwitte vir volhoubare boerdery en hulpbronontwikkeling. Daarbenewens plaas die feit dat die vereniging die steun van nasionale en provinsiale departemente van landbou, die landboumedia, boere en ander rolspelers het, dit van die begin af op ‘n suksespad.
Me. Annelene Swanepoel, bestuurder van die plantproduksie-instituut van die Wes-Kaapse departement van landbou, glo hulle kan “reuse-spronge” met hul navorsing maak as hulle nader aan boere beweeg en meer kontak met hulle het – iets wat die vereniging moontlik sal maak. Sy glo ook dat hulle op die manier ‘n beter idee sal kry van die huidige stand van geenbewerking in die provinsie.
Boerelede uit die onderskeie produksiegebiede is verkies. Hulle is mnre. Johannes Schoonwinkel (Swellendam-gebied en voorsitter), Jacobus Human (George, Mosselbaai, Riversdal), Kobus Schonken (Bredasdorp), Dirk Lesch (Malmesbury) en Abrie Richter (Piketberg, Porterville, Eendekuil). Mnre. Kobus Wessels (Caledon) en Junior Herholdt (Koeberg), wat in hul afwesigheid benoem is, moet nog kennis gee of hulle die benoemings aanvaar.
Die res van die komitee is dr. Johann Strauss van die Wes-Kaapse departement van landbou, dr. Sandra Lamprecht van die LNR, prof. André Agenbag van die Universiteit Stellenbosch en mnr. Francis Steyn, bestuurder van die Wes-Kaapse departement van landbou se LandCare-afdeling.
Enigiemand wat meer inligting oor die vereniging wil bekom, kan dr. Johann Strauss kontak by tel.nr. 021 808 5479 of e-pos johannst@elsenburg.com.
9 Junie 2011