Wes-Kaapse regering 'verpolitiseer grondhervorming'

 

Die Wes-Kaapse regering maak politiek van grondhervorming deur te sê hy gaan 7 000 nuwe boere vestig en skep verwagtings waaraan nie voldoen kan word nie, sê mnr. Gerrit van Rensburg, DA-LPP.


Hy het in die debat oor die landboubegrotingspos in die provinsiale parlement gesê in die Wes-Kaap is die afgelope twee jaar net sowat 29 000 ha landbougrond herverdeel, terwyl 250 000 ha elke jaar vir 15 jaar verdeel moet word om die nasionale Regering se mikpunt van 30 % grond in nie-blanke besit te bereik.


Hy voel grondhervorming moet deur 'n agentskap bestaande uit kundiges en kommersiële boere bestuur word, terwyl die Regering die geld gee en die doelwitte stel. Aansporingsmaatreëls soos belastingverligting moet beskikbaar wees vir boere en die private sektor wat by die proses betrokke wil raak. Verskillende moontlikhede soos huur met die opsie om te koop, deelboerdery en aandeelhouding in boerderymaatskappye moet oorweeg word.


In reaksie het verskeie lede van die NNP en ANC mnr. Van Rensburg daarvan beskuldig dat hy as vorige landbouminister baie min vir grondhervorming gedoen het en nie nou kan kritiseer nie.


Mnr. Peter Marais, LPP en leier van die Nuwe Arbeidersparty, sê die opheffing van plaaswerkers en grondhervorming moet versnel word en die Regering moet vergeet van die beginsel van markwaarde, aangesien regstelling nodig is.


Mev. Joyce Witbooi van die NNP het die huidige droogte in die Weskusstreek onder die lede se aandag gebring en gevra dat voorsiening nóú gemaak word vir droogtehulp as dit nodig sou wees.


Mnr. Johan Gelderblom, provinsiale minister van landbou, toerisme en dobbelary, het aangekondig dat die landboubegroting skerp styg tot R169 miljoen vanjaar. Verlede jaar was dit sowat R131 miljoen.


Aan grondhervorming en infrastruktuur aan boerderygemeenskappe sal R16,7 miljoen bestee word


Wat die veeartsenydiens betref, word 'n bykomende R4,5 miljoen beskikbaar gestel om 'n subdirektoraat vir openbare gesondheid en voedselveiligheid te skep. Die veeartsenydiens wat nodig is om diere en diereprodukte uit te voer, word versterk en sal veral die volstruisbedryf bevoordeel.


Mnr. Gelderblom sê opleiding kan 'n groot bydrae lewer tot transformasie in die landbou, grondhervorming, werkskepping en die stryd teen armoede in plattelandse gemeenskappe. Daarom is die toekenning vir landbou-opleiding met 14 % verhoog tot R23,8 miljoen.


Die navorsingsbegroting is R16 miljoen en R10,8 miljoen is vir die voorligtingsdiens begroot.

27 Junie 2003

0