|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 23:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 76% |
| Wind: |
Nóg ‘n dieresiekte wat veral perde aantas, die Wes-Nyl-virus, het weer sy kop in Suid-Afrika uitgesteek.
Volgens dr. Anje Pretorius, ‘n staatsveearts in die Middelburg-omgewing, het dié siekte dié week by ‘n algemene vergadering van die landboudepartement in die provinsie ter sprake gekom.
Luidens ‘n berig in Landbouweekblad (14 Mei 2010) het dr. Jane Pistorius, die bestuurder van die Departement van Landbou se veeartsenydiens in die Oos-Kaap, bevestig dat ‘n veearts die siekte opgedoen het.
Volgens Pretorius is by die vergadering gesê dat perde in KwaZulu-Natal moontlik die siekte onder lede het. “In my gebied in die Oos-Kaap het nog geen sulke gevalle voorgekom nie”.
Dr. Grietjie de Klerk, van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, het aan Landbou.com gesê dat bevestigde gevalle van die siekte tans wel in die land voorkom, maar sy sê dit is nie ‘n vreemde siekte vir Suid-Afrika nie.
“Dit is nie vreemd in die land nie. Die siekte kom al ‘n geruime tyd hier voor en van tyd tot tyd kry ons gevalle. Die siekte word egter min gediagnoseer, aangesien dit maklik kom en gaan”, verduidelik De Klerk.
Wes-Nyl- en Slenkdalvirusse verskil
Pretorius sê die Wes-Nyl-virus kom net onder perde voor. “Ek het nog geen rekords gesien van dié virus wat onder skape en beeste voorkom nie.” Sy sê die virus word deur muskiete versprei, en kan nie van mens na mens, of dier na dier, of dier na mens oorgedra word nie.
“Voëls kan ook draers van die siekte wees, hoewel ‘n mens nie die simptome van die siekte by hulle kan waarneem nie. ‘n Dier wat dié koors onder lede het, sal verskeie neurologiese simptome toon. Die dier sal van balans af wees, lam word en breinvliesontseking ontwikkel,” sê Pretorius.
Volgens Pretorius kan die simptome van die Wes-Nyl-vuris en Slenkdalkoors by diere nie maklik verwar word nie, aangesien dit aansienlik verskil, veral wat neurologiese aspekte aanbetref. “By menslike gevalle is dit moeiliker om die siekte te diagnoseer, aangesien die simptome baie met dié van Slenkdalkoors ooreenstem. ‘n Mens tel dit wel in die pasiënt se bloedtoetse op,” sê sy.
Die wind kan wel ‘n rol speel in die verspreiding van die Wes-Nyl-virus, aangesien dit ‘n rol in die verspreiding van muskiete speel, sê Pretorius. Volgens haar is een nuwe geval van Slenkdalkoors die afgelope twee weke op ‘n plaas in die Hofmeyr-distrik bevestig.
“Slenkdalkoors is besig om af te neem. Die getalle word minder, en ek neem aan dis weens die winter. In totaal het ons sedert die uitbreek van die siekte, 21 plase in die Middelburg-omgewing gehad waar die siekte bevestig is. In Hofmeyr en Cradock is sewe plase elk geraak, en in die Tarkastad-omgewing een.”
13 Mei 2010
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
Ek sien nou daar word gese dat Wes-Nyl nie skape aantas nie. Hier by ons in die Richmond, Victoria-Wes, Britstown gebied was daar baie skaapvrektes wat vermoed was Slenkdalkoors te wees. Op 'n paar plase waar van die meeste vrektes was, word al die skaap al die jare ge-ent. Ek wonder maar net of dit nie Wes-Nyl kan wees nie?
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)