Agriwiki

Trekkerwerf

Hunter & Jagter

Farming SA

Wie neem oor by Gwanya?

 

Alle oë is op die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming om te sien wie die leisels as direkteur-generaal (DG) by mnr. Tozi Gwanya gaan oorneem.

Gwanya se kontrak met die departement is nie hernu nie. Hy gaan hom nou op onderrig, opleiding en menslike ontwikkeling toespits. Sy kontrak het einde Julie verstryk nadat hy in April 2008 as DG aangestel is.

Die departement kon teen druktyd nie aan Landbouweekblad bevestig wie in sy plek gaan waarneem nie. Mnr. Mdu Shabane, adjunkdirekteur-generaal, sal waarskynlik tydelik oorneem.

Gwanya se vertrek uit die departement is deur verskeie politici verwelkom − veral omdat die departement onder sy bestuur na bewering miljoene rande verkwis het.

Enkele maande gelede het mnr. Salam Abram, ANC-LP, in die Parlement se  portefeuljekomitee vir landelike ontwikkeling en grondhervorming gevra dat ’n forensiese oudit oor die departement se plaasaankope gedoen moet word. Die departement kon nie rekenskap oor sy lopende sake gee nie.

Me. Annette Steyn, DA-LP, sal vra dat ’n verslag van die ouditeur-generaal (OG) bekend gemaak moet word. Daar is bewerings dat inligting in dié verslag waarskynlik daartoe gelei het dat Gwanya nie meer DG is nie.

Mnr. Hans van der Merwe, uitvoerende direkteur van Agri SA, meen die nuwe DG sal  iemand moet wees wat die hoedanigheid het om vertroue en ’n nuwe gees van samewerking te bewerkstellig.

Lees meer in Landbouweekblad se uitgawe van 6 Augustus.

30 Julie 2010
 

0
 
 

Kommentaar

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.