|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 23:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 76% |
| Wind: |
Wolproduksie sal na verwagting in die 2002/03-seisoen stabiliseer en kan selfs ietwat styg. Produksie is in terme van die aantal produsente ongebalanseerd en nagenoeg 8 % van die wolboere produseer sowat 40 % van die totale skeersel. Die oorgrootte meerderheid boere verkies om hul wol per veiling te verkoop.
Dit is van die bevindings in 'n landwye opname deur die Sentrum vir Internasionale Landboubemarking en -Ontwikkeling (CIAMD) aan die Vrystaatse Universiteit namens Cape Wools in die eerste helfte van 2002 om 'n produksievooruitskattingsmodel vir die bedryf te ontwikkel. Dit is telefonies gedoen en het oor sewe weke gestrek. Veertien sensusopnemers was betrokke.
Altesame 2 260 boere landwyd is genader en 1 713 het aan die opname deelgeneem. Die vrae was daarop gemik om vas te stel met watter skaaprasse geboer word, wat die gewildste verkoopmetode is, watter tyd van die jaar wol geskeer en gelewer word, die kuddesamestelling en verwagte verandering in kuddes.
Cape Wools se voorsitter, mnr. Briers Bekker, sê die resultate toon dat produksie dié seisoen behoort te stabiliseer of effens kan styg. Dit word daarop gegrond dat 32 % van die respondente gesê het hulle beoog om hul kuddes uit te brei, hoofsaaklik weens hoër pryse, terwyl 55 % gesê het hulle verwag dat hul produksie op die dieselfde vlak sal bly.
Net 13 % het gesê hulle gaan hul kuddes verminder, hoofsaaklik weens veediefstal en probleme met ongediertes.
'n Ontleding van die jongste statistiek toon dat die produksieverspreiding ongebalanseerd is omdat 8 % van die boere soveel tot 40 % van die totale skeersel produseer. Daar is 'n duidelike afsnypunt rondom 12 000 kg (sowat 80 bale). Uit die 7 541 boere wat in 2001/02 wol vir veilings gelewer het, het 6 951 (92 %) minder as 12 000 kg geproduseer.
Mnr. Bekker sê die veilingstelsel is die gewildste metode vir die verkoop van wol en 98 % van die respondente het aangedui dat hulle hul wol dié seisoen per veiling gaan verkoop. Die meeste boere skeer hul skape van Augustus tot November en 73 % van die respondente het gesê hulle gaan dit dié seisoen weer doen.
Die Merino is die gewildste skaapras (51 % van die respondente), gevolg deur die Dohne-Merino (20 %) en die SA Vleismerino (12 %).
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24