Woluitvoer na China op rekordvlak

 
Wolbale in pakhuis. Foto: ONA VILJOEN
Wolbale in pakhuis. Foto: ONA VILJOEN

Woluitvoer na China, die grootste invoerder van Suid-Afrikaanse wol, het die afgelope wolseisoen (2008/'09) tot ’n rekordvlak gestyg.

Statistiek wat deur Cape Wools SA vrygestel is, toon dat die volume vetwol wat na China uitgevoer is van 14 miljoen kg in 2007/'08 tot 21,2 miljoen kg die afgelope seisoen toegeneem het - ’n styging van 53%. China voer hoofsaaklik onverwerkte wol en kleiner hoeveelhede halfverwerkte wol (gewas en gekam) in.

Die totale waarde van die wol wat na dié land verskeep is, het R622,7 miljoen beloop, wat effens laer as die vorige seisoen is weens die laer prysvlakke van wol.

China se markaandeel, as persentasie van die totale vry aan boord-waarde van alle wol wat uitgevoer is, het tot 46,7% gestyg teenoor 31,3% in 2007/'08.

Hoewel die Chinese tekstielbedryf swaar deur die wêreldwye finansiële krisis getref is, wat tot ’n skerp afname in die vraag na produkte in sy tradisionele markte (Japan, Amerika, Europa en Suid-Korea) gelei het, het woltekstielvervaardigers gereageer deur op die binnelandse mark te konsentreer. Binnelandse verbruik het bestendig gebly danksy die stimulus pakket van die Chinese regering. Nagenoeg 10% van dié pakket het op die tekstielbedryf gefokus.

Daarbenewens het Chinese vervaardigers oorgeskakel na die uitvoer van duurder, geweefde wolkleding en minder breiware, wat gelei het tot ’n styging in die invoer van fyn Merinowol uit Suid-Afrika en Australië.

Die voortgesette goeie vraag uit China het ook as teenwig gedien vir die daling in die uitvoer (in volume en waarde) na Suid-Afrika se ander belangrikste markte weens die verlangsaming in klereverkope op kleinhandelsvlak.

Dit sluit in Italië, wat volgens waarde bereken weer die naasgrootste invoerder was, die Tjeggiese Republiek, Duitsland en Indië.

Die uitvoerprofiel van die afgelope seisoen bevestig die voortgesette toename in die volume vetwol wat uitgevoer word ten koste van halfverwerkte wol. Net minder as 75% van verskepings was onverwerkte wol vergeleke met 66,8% in 2007/08. Die totale volume halfverwerkte wol wat uitgevoer is, het tot 27,2 miljoen kg gedaal vanaf 29,4 miljoen kg in 2007/'08.

3 Augustus 2009

 

0
 
 

Kommentaar

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.