Deur ONA VILJOEN
Die nuwe wolseisoen open Woensdag, 19 Augustus, wanneer sowat 13 000 bale wol in Port Elizabeth aangebied word.
Die seisoen open te midde van bemoedigende tekens dat die resessie in van die belangrikste verbruikersmarkte vir wol besig is om tot ’n einde te kom. Die verwagting is dat die vraag na kleedwol teen die einde van die jaar sal begin verbeter namate die wêreldekonomie herstel en aanstaande jaar groter momentum sal kry.
In Australië, waar veilings reeds ’n aanvang geneem het, het pryse as gevolg van sterker vraag verstewig.
Van die faktore wat in wol se guns tel, is die goeie vraag na natuurlike vesels, dat wol op sy huidige prysvlakke mededingend teenoor ander vesels is en dat die aanbod van kleedwol in 2009/’10 heelwat laer gaan wees weens die voortgesette afname in Australië se produksie.
Australië is die wêreld se grootste produsent van kleedwol, gevolg deur Suid-Afrika.
Volgens die jongste vooruitskatting gaan dié land se produksie in 2009/’10 tot 330 miljoen kg daal, wat sowat 30 miljoen kg laer sal wees as in 2008/’09. Dit is ook die laagste vlak in 80 jaar.
Ander gunstige nuus is die sterker ekonomiese groei in China, die wêreld se grootste wolverbruiker. China is ook die grootste invoerder van Suid-Afrikaanse wol en verskepings na dié land het verlede seisoen tot ’n rekordvlak gestyg.
Ontleders waarsku egter dat die mark baie wisselvallig sal bly. Die wisselkoers sal ook ’n groot invloed op die bepaling van prysvlakke uitoefen.
17 Augustus 2009
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)