|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 23:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 76% |
| Wind: |
Met die stigting van Melk SA het dit moontlik geraak dat die jarelange wrywing tussen melkkopers, -boere en -verwerkers besweer kon word sodat saam tot die voordeel van die totale bedryf gewerk kan word, het mnr. Robert Wesseloo, hoof uitvoerende beampte van NCD en voorsitter van Melk SA, gesê.
Mnr. Wesseloo het op die jaarvergadering gesê die sterker rand benadeel suiweluitvoer, net soos met ander bedrywe wat uitvoergerig is. Tog is die Suid-Afrikaanse melkprys en die huidige melksituasie in die algemeen goed, wat melkproduksie aanmoedig.
Net soos in die res van die wêreld, is melkprodusente se getalle besig om te verminder (daar is tans net minder as 1 000 melkprodusente in Suid-Afrika), maar meer melk word deur hulle geproduseer. Dit is hoofsaaklik weens doeltreffender bestuur.
Op 'n vraag of daar op 'n oorskot weens die hoër melkproduksie in die land afgestuur word en dat melkpryse daardeur benadeel kan word, het hy gesê melkpryse begin reeds by die kleinhandelsverkoopspunte daal. Daar is al hoe meer spesiale aanbiedinge van melk op die winkelrakke en dit beteken dat druk ook deur die winkelgroepe toegepas word.
Mnr. Wesseloo het gesê daar moet teen te groot oorskotte of te groot tekorte van melk gewaak word. "Dit is Melk SA se doel om dit te bestuur met behulp van vrye markmeganismes wat die vraag en die aanbod in ewewig sal plaas."
4 Julie 2003Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24