'Wynboere moet risiko van wisselkoers bestuur'

 

Mits Suid-Afrika nie weer 'n wisselkoerskrisis beleef nie, is die vooruitsig goed dat rentekoerse tot Februarie volgende jaar met nog drie persentasiepunte tot 12,5 % kan daal. Mnr. Matthys Strauss, hoofstrateeg van Absa en verlede jaar se ekonoom van die jaar, raai wynboere egter aan om hul produkinkomste te verseker deur gedeeltelike vooruitdekking uit te neem.


Hy het op 'n seminaar vir wynuitvoerders in Stellenbosch gesê die rand se beweging sal uitvoerders op lang termyn bevoordeel, "maar op lang termyn sal ons almal dood wees". Mnr. Strauss meen die mate waartoe wynboere die wisselkoersrisiko's moet bestuur, sal afhang van hoe gevoelig elke boer vir 'n laer inkomste is.


Wynuitvoerders kan die wisselkoers ingevolge verskillende strategieë vir 'n tydperk vasmaak sodat hul inkomste daarteen bereken kan word. Hoe meer die wisselkoers in hul guns vasgemaak word, hoe groter die versekeringspremie wat hulle moet betaal.


Hy sê die rand se verstewiging in die eerste paar maande van die jaar is grootliks aan die verwagte wêreldgroei toe te skryf en die feit dat die rand een van die wêreld se vier vernaamste kommoditeitsgeldeenhede is. Die ander drie geldeenhede wat grootliks van die uitvoer van kommoditeite afhang, is dié van Kanada, Australië en Nieu-Seeland.


Tog lyk die vooruitsige vir wêreldgroei -- veral in Japan, Duitsland en Nederland -- slegter as wat ontleders vier tot ses maande gelede aangedui het. Die verwagting is dat Amerika se groei aanstaande jaar van ongeveer 2 % tot 2,5 % kan verbeter. "Ek verwag egter nie naastenby dat die wêreldekonomie weer sal groei soos in die middel 1990's nie," aldus mnr. Strauss.


Hy wys daarop dat die wisselkoers van die rand (wat ook gesien word as die geldeenheid van 'n ontluikende én 'n Afrika-land) uiters onbestendig geword het. Die afgelope ruk het beleggers Suid-Afrika as 'n veilige hawe beskou, maar soms meen hulle weer die land is 'n minder belangrike ontluikende mark. Gevolglik is dit amper onmoontlik om markbewegings vooraf betyds raak te sien.


Hy sê die kans is goed dat 'n dollar einde vanjaar R8,50 tot R9,00 sal kos en dat dit einde volgende jaar nader aan R10 kan wees. Hy meen in dié tyd is daar 'n kans van 25 % dat die rand verder kan verswak tot 'n vlak van R11 vir 'n dollar, terwyl 'n kans van 15 % bestaan dat die rand in dieselfde tyd tot R8,50 vir 'n dollar kan verstewig.

4 Julie 2003

0