Wysigings aan arbeidswetgewing, wat reeds verskeie kere uitgestel is, sal waarskynlik op 1 Augustus plaasvind.
Onderhandelings oor die wysigings aan die Wet op Arbeidsverhoudinge en die Wet op Basiese Diensvoorwaardes het reeds meer as twee jaar geduur.
Mnr. Kobus Kleynhans, direkteur: Arbeid en ontwikkeling van Agri SA, sê een van die sake waaroor daar klaarblyklik nog nie eenstemmigheid is nie, is 'n volledige beskrywing van alles wat by vergoeding ingesluit behoort te word. Hy sê daar word nog met die Departement van Arbeid hieroor gepraat.
Van die vakbonde wil onder meer hê dat oortydbetaling en aansporingsbonusse ook by die bepaling van verlofgeld in ag geneem moet word.
Mnr. Kleynhans sê 'n kwessie in die wysigings van die Wet op Arbeidsverhoudinge wat boere en ondernemings ernstig kan raak, is vakbonde wat wettig kan staak as hulle glo werkgewers het by aflegging van werkers nie alle ander moontlikhede eers beproef nie. "Die proses van aflegging kan maklik vir maande vertraag word met ernstige gevolge vir ondernemings wat reeds geldelik in die knyp is."
Een van die moontlike probleme met wysigings in die Wet op Basiese Diensvoorwaardes is die weerlegbare vermoede dat kontrakwerkers in werklikheid werknemers is, totdat die werkgewer die teendeel bewys het.
Die sektorale vasstelling vir die landbousektor is nog nie afgehandel nie. Dit sal die voorgestelde minimumlone vir plaaswerkers bepaal sowel as sommige ander diensvoorwaardes.
Mnr. Kleynhans sê Agri SA is besig met 'n opsomming van al die belangrikste wysigings en dit sal binnekort aan filliale beskibaar gestel word. "Opleidingsmateriaal vir arbeidskursusse sal ook in die loop van die maand aangepas word om voorsiening vir die wysigings te maak."
12 Julie 2002