|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 23:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 76% |
| Wind: |
Die chemiese maatskappy Yara International ASA, gaan sy onderneming in Suid-Afrika, Yara SA (voorheen bekend as Kynoch), aan die plaaslike landboudiensverskaffer Farmsecure verkoop.
Luidens ’n verklaring is dié besluit geneem omdat Yara se volfiliaal Suid-Afrikaanse-onderneming nie deel van sy kern-sakebedrywighede is nie. Yara International ASA se hoofkantoor is in Oslo, Noorweë.
As deel van die transaksie sal alle werknemers wat by Yara SA betrokke is, na Farmsecure oorgeplaas word. ‘n Verspreidingsooreenkoms gaan onderteken word en Yara sal aan die groep die reg gee om die Kynoch-handelsmerk te gebruik.
“Dit is ‘n natuurlike uitvloeisel van ons strategie. Met die verspreidingsooreenkoms sal ons voortgaan om groei met die verkope van ons kunsmis te behaal. Ons kan aan geen beter vennoot as Farmsecure dink om hierdie doel te bereik nie,” het mnr. Trygve Magnussøn, hoof van Yara se Afrika-sake-eenheid, gesê.
Farmsecure verskaf onder meer landboukundige kennis en tegnologie en praktiese steun aan boere. Die groep sal voortaan die alleenverspreider van ‘n uitgesoekte reeks van Yara se kunsmisprodukte wees. Yara sal voortgaan om ureum en kunsmisprodukte aan Farmsecure en ander invoerders in die streek te verskaf.
“Die groep beskou dié transaksie as deel van sy visie om volhoubare en winsgewende boerderyondernemings te skep. Ons het ‘n gesamentlike visie om ‘n betekenisvolle bydrae tot die wêreld se voedselsekerheid te lewer,” het mnr. Schalk Lubbe, uitvoerende hoof van Farmsecure, gesê.
Die transaksie sal onderworpe wees aan die normale statutêre vereistes.
19 Mei 2010
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)