|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 23:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 76% |
| Wind: |
Die drie finaliste wat Suid-Afrika in die Zegna V.A. Challenge-kompetisie sal verteenwoordig, is aangewys en sal teen die finaliste van Argentinië en Nieu-Seeland meeding om die titel vir die beste fynwolvag in die kategorie 14 mikron tot 18 mikron.
Hulle is mnre. Rodney Austin van Grahamstad, Jules van Aardt van Kookhuis en Donald Young van Kokstad.
Volgens Cape Wools is 53 inskrywings ontvang. Die drie wenvagte is na Australië onderweg waar die finale beoordeling plaasvind en 'n wenner vir elke land, asook 'n algehele wenner aangewys sal word. Elke land se wenner en sy metgesel sal op Zegna se koste na Australië reis vir die prysuitdeling wat in Maart in Melbourne gehou word.
Zegna, 'n bekende Italiaanse vervaardiger van mansdrag, ken jare lank al jaarliks 'n trofee vir die beste Australiese vag toe. Dit is die eerste keer dat 'n kompetisie vir die ander drie groot woluitvoerlande aangebied word en dit sal nou 'n jaarlikse instelling word.
Die beoordelaars was mnre. Johan Coetzer van die Woltoetsburo, Louis Booysen, 'n wolkoper, en Jakes Mulder van Cape Wools. Die punte is volgens 'n glyskaal toegeken vir veseldikte (50), gewig (15), gehalte (15), treksterkte (10) en eenvormigheid van stapel (10). Die Woltoetsburo het die veseldikte met die OFDA-toestel getoets, soos deur Zegna voorgeskryf is.
Volgens die beoordelaars was die vagte van 'n baie hoë gehalte, veral as in ag geneem word dat Zegna die wedstryd in 'n laat stadium aangekondig het en boere min tyd gehad het om daarvoor voor te berei. Hulle sê die grootste struikelblok is dat die Suid-Afrikaanse skeersel te sterk is en deelnemers gevolglik punte inboet omdat veseldikte die meeste tel.
Net drie inskrywings was fyner as 16 mikron. Die fynste was 15,1 mikron, die tweede 15,5 mikron en die derde 15,9 mikron. Die meeste inskrywings het in die kategorie 16,6 mikron tot 17,5 mikron geval.
27 Desember 2002
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24