Zuma ontvang 136 000 misdaadbriewe

 

Solidariteit het sowat 136 000 teen-misdaadboodskappe aan pres. Jacob Zuma in Tuynhuys oorhandig. Die vakbond het sowat drie weke gelede ‘n veldtog teen misdaad van stapel gestuur na dié kwessie baie min aandag in die staatsrede geniet het.

Luidens ‘n verklaring het die vakbond aanvanklik verwag om 10 000 briewe te ontvang. Na die veldtog aanvanklik geloods het, het hulle 23 000 briewe ontvang. Die veldtog is verskerp na die Regering die boodskappe nie wou ontvang nie, en die vakbond sê hulle us verstom oor die momentum wat die projek op die ouend aangeneem het. “Dié 136 000 boodskappe is ʼn noodroep van gewone Suid-Afrikaners”, sê Solidariteit.

Verbind tot gemeenskapsveiligheid
Intussen sê mnr. Flip Buys, uitvoerende hoof van Solidariteit, dat hulle hulself tydens samesprekings met Zuma daartoe verbind het by gemeenskapsbeveiliging betrokke te raak. Die vakbond sal na verwagting die 136 000 deelnemers van die veldtog aanmoedig om misdaad te hep bestry en by gemeenskapsprojekte betrokke te raak.

“Hoewel mense duidelik voel dat die Regering nie misdaad onder beheer het nie, kan ons nie net kla nie. Gemeenskappe moet ook betrokke raak by hulle eie beveiliging. Ons gaan dus aan die een kant ʼn waghond-rol speel om sorg te dra dat die SA Polisiediens hulle werk doen, maar aan die ander kant gaan ons aktief betrokke raak by die bekamping van misdaad. Ons oproep aan alle Suid-Afrikaners is om in te skakel by gemeenskapspolisiëringforums. Ons moet in samewerking met die SAPD ons vuis teen misdaad bal,” sê Buys.

Die vakbond het ook versoek om met mnr. Nathi Mthethwa, die Minister van Polisie, te vergader om die bekendstelling van só ʼn plan asook die moontlikheid van ʼn gemeenskapsbeveiligingskonferensie te bespreek.

Intussen het sowat 1700 mense reeds Landbou.com se petisie teen plaasmoorde, Stop plaasmoorde, onderteken. Belangstellendes kan hier klik en die petisie te onderteken.

 

9 Maart 2010
 

0
 
 

Kommentaar

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.