Hy sal reageer op die beweerde uitsprake wat mnr. Julius Malema, voorsitter van die ANC Jeugliga, teenoor boere gemaak het, sê pres. Jacob Zuma. Hy het vandeesweek tydens ‘n funksie met belanghebbende organisasies aangedui dat die beweerde uitsprake wat Malema gemaak het, bespreek sal word waarna hy kommentaar sal lewer.
Mnr. Louis Meintjes, ondervoorsitter van die TLU SA, sê hy self het baie gefokus op die Malema-kwessie gedurende die byeenkoms.
“Ek het vir hom gesê ek is bestempel as ‘n verkragter en dit staan my glad nie aan nie. Dié tipe uitsprake is nie goed vir rasseverhoudings nie. Dit is ook nie goed vir die land as geheel nie, en ons verwag dat hy hom daaroor moet uitspreek,” verduidelik Meintjes.
Lees ook:
Zuma 'moet Malema-kwessie aanspreek'
Meer as 180 klagtes teen Malema
Luidens ‘n berig op Nuus24 is 186 individuele klagtes oor haatspraak teen Malema by die Menseregtekommissie ingedien. Dít volg nadat Malema die afgelope twee weke glo omstrede uitlatings oor boere gemaak het.
Tydens ‘n studentesaamtrek in Johannesburg het hy vandeesweek glo “Dubula ama-Bhunu baya raypha” (“Skiet die Boere, hulle is verkragters!”) gesing.
Die Vryheidsfront Plus, AfriForum en die Demokratiese Alliansie (DA) in Noordwes is van die organisasies wat klagtes teen Malema ingedien het.
“Malema is bekend vir sy onverantwoordelike, kinderlike uitlatings, maar hierdie keer het hy te ver gegaan. Dié blatante aanstigting tot geweld teen boere behoort nie toegelaat te word om sonder gevolge voort te duur nie,” het mnr. Chris Hattingh, leier van die DA in Noordwes, volgens die berig gesê.
Gesprek baie positief
Volgens Meintjes was die gesprek met die President baie positief en het is Zuma weer gevra om besprekings oor die landbou te hou. Hy sê volgens Zuma sal ‘n komitee uit die georganiseerde landbou en ander belanghebbende organisasies saamgestel word om hom op hoogte te hou van probleme en om moontlike oplossings te voorsien.
“Ek is baie positief. Dit was ‘n goeie byeenkoms. Ons sal nou net moet wag om te sien of Zuma op die uitsprake gaan reageer en ‘n definitiewe standpunt daaroor gaan inneem,” sê Meintjes.
Jeugliga verwerp plaasaanval-lys
Intussen berig van Business Day dat die ANC Jeugliga vandeesweek glo geweier het om ‘n lys met besonderhede oor 1 600 plaasaanvalle van AfriForum Jeug te ontvang. Die groep wou die lys aan die liga oorhandig nadat hulle ‘n klag teen Malema by die Gelykheidshof ingedien het.
Volgens ‘n uitnodiging wat mnr. Ernst Roets, voorsitter van AfriForum Jeug, aan die media gestuur het, is daar ‘n afspraak gemaak om die lys te oorhandig. Mnr. Floyd Shivambu, ‘n woordvoerder vir die ANC Jeugliga, het bewerings dat hulle geweier het om die lys te aanvaar verwerp en gesê die organisasie het nie ‘n afspraak met hulle gemaak nie.
12 Maart 2010
Kommentaar
Nou hoekom kla so baije jabroers nou?Is dit nie die prys as jy 'n blank tjek teken?
En toe reageer die ANC BAIE POSITIEF met MALema se liedjie. Hulle sê dit is geskiedenis en dit hoort so.Om 'n swart man as kaf--- aan te spreek is mos ook geskiedenis, so volgens die ANC kan ons dit seker maar weer doen.
Hoekom sukkel die plaasmoordpetisie van Landbouweekblad so om handtekeninge te kry? Is dit 'n aanduiding van die gemiddelde Afrikaner se gevoel oor hierdie erg dringende saak? Ek raak bekommerd.
Nou hoekom is malema so mooi rond en gesond ,of is boere se kos darem goed genoeg .Smaak my almal is bang vir hom ,hy het mos al gedreig om geheimpies te laat lek .
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)