Nuwe baadjie vir veekompetisies

Deur Charl van Rooyen
11 Augustus 2017
Die veekompetisies wat jaarliks by die Adam-veeskool afhandel is vanjaar aangepas.

Die gewilde Breedplan-bulkompetisies kry vanjaar ’n nuwe baadjie, met groter klem op genetiese vordering in ekonomiese terme deur middel van ekonomiese seleksie-indekse.

Die finaliste vir die Breeplan Bul van die Jaar-kompetisie is die afgelope 15 jaar op die skoue in Pietermaritzburg, Vryburg, Pretoria en Windhoek en later ook Lichtenburg en Morreesburg onder leiding van Suid-Afrika se voorste interrasbeoordelaar, mnr. Martin Seyfferdt, aangewys. Die algehele wenner is dan op die jaarlikse Aldam-vleisbeesskool aangewys, wat vanaf vanjaar die Veeskool heet omdat daar nou ook groot klem op kleinveeboerdery is.

Dr. Michael Bradfield, hoof van Breedplan Suider-Afrika, sê die Lewendehawe Registrerende Federasie (LRF) het besluit om die verskillende Zoetis-bulkompetisies te vernuwe en twee nuwe afdelings te begin. Die Zoetis-bul van die jaar op skoue sal vorentoe binne ras beoordeel word, waarna die finaliste oor skoue heen met mekaar vergelyk sal word.

Die finale toekenning sal op grond van prestasiesyfers en hoofsaaklik ’n seleksie-indeks wees. Die Zoetis-beproefde bul van die jaar is nou ’n kompetisie waarin die bulle in minstens drie kuddes met goeie prestasie op ekonomies belangrike eienskappe moet presteer. Die Zoetis-prestasiegetoetste Jongbul van die Jaar-kompetisie betrek voortaan alle bulle in die bedryf. Rasbeoodelelaars of keurders sal self elke rasgenootskap se finaliste aanwys.

Die Landbank-koei van die Jaar is tot nou toe gekies op grond van die 10 beste koeie in elke teler se kudde, gebaseer op reproduksie, prestasie en groei/karkasprestasie. Voortaan sal die wenners op grond van ekonomiese seleksie-indekse gekies word, waar van toepassing. Die grootste verandering is dat die hele kudde nou in aanmerking geneem word. Bradfield sê omdat seleksie-indekse gebruik word, het klein en groot kuddes ’n gelyke kans om te presteer indien koppelbulle oor kuddes heen gebruik word.

Die Pick n Pay-teler van die Jaar-kompetisie se vereistes is onveranderd en neem die genetiese vooruitgang in die kudde, waardetoevoeging tot die bedryf en die teler se betrokkenheid in die bedryf in aanmerking. Die Pick n Pay/Rudd Skaal-opkomende Teler van die Jaar-kompetisie se vereistes bly ook dieselfde. Enige opkomende stoet- of kommersiële boer mag deelneem.

Die BKB-volledigheid van Rekordhouding-toekenning se kriteria is strenger gemaak weens ’n groot aantal deelnemers wat nou ook rekordhouding doen en dus kwalifiseer. Vir verdere navrae skakel dr. Michael Bradfield by tel. 012 667 5258.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels