Nuwe neiging in kooppatrone van vleis

Deur Johan Norval
19 Junie 2017
Die kooppatrone van verbruikers wat vroeër vleis in groot maat gekoop het, het verander, sê mnr. Alex Cilliers, hoof van vleishandel by GWK.

’n Nuwe neiging is in rooivleisbemarking te bespeur wat dié bedryf noop om by voorkeure van verbruikers aan te pas.

Mnr. Alex Cilliers, hoof van vleishandel by GWK, sê die moderne verbruiker het nuwe behoeftes en die bedryf moet homself daarby aanpas. Die grootste verkoopneiging van rooivleis het na die kettinggroepe en die kleinhandel toe verskuif, teenoor die vroeëre bemarking hoofsaaklik deur groothandelaars.

Hy het op die Vrystaatse RPO-kongres in Bloemfontein gesê dit is hoofsaaklik teweeg gebring oor die gemak en die voorkeure van verbruikers, asook ’n verandering in verbruikers se inkooppatrone.

Het in groot maat gekoop
“Verbruikers het vroeër vleis meer geredelik in groot maat by slaghuise en kleiner supermarkte aangekoop, dikwels in ’n sporadiese patroon aan die einde van elke maand,” sê hy. “Nou sal die verbruiker daagliks sy vleisbehoeftes by groot kettingwinkels aankoop, en ons moet seker maak dat die bedryf daagliks karkasse kan verskaf, verpak en op die winkelrakke kry om seker te maak dat die verbruiker sy snitte kry wanneer hy of sy instap,” sê hy.

Volgens Cilliers weet die hedendaagse verbruiker presies wat hy of sy wil hê en voorkeure gaan onder meer met die gemak en die konstante lewering van hoogstaande gehalte gepaard.

“Sowat 60% van die verbruikers koop hulle rooivleis by kettinggroepe aan. Ons kan nie die oprigting van vleisverwerkingsaanlegte bekostig en dan kan verbruikers nie hulle voorkeursnitte daagliks op die winkelrakke teen stabiele prysvlakke aantref nie,” sê hy.


Kommentaar

Kommentaar (4) “Nuwe neiging in kooppatrone van vleis

  1. mkruger
    mkruger

    Ek dink die grootste skuif is veroorsaak deurdat die verbruiker minder geld in sy sak het en hy gevolglik maar koop soos sy begroting dit toelaat.
    Wat ek al gesien het is dat die mense met sekere vakansiedae bietjie sal spandeer maar die goedkoper snitte wat maalvleis en word insluit kry baie voorkeur.
    Die huidige styging in die vleispryse gaan die verbruiker onder nog meer druk sit.

  2. Marlize
    Marlize

    Persoonlik hou ek baie van ons plaaslike SPAR se idee. N vleis rak soos in die slaghuis……waar ek 3 stukkies wors of 450g maalvleis of 7 varktjoppies kan kies. Genoeg vir n ete maar geen mors nie. Grootmaat moet ek pakkies opmaak en vries vanaand is ons 5 maar die pakkies is vir 4 persone…. 2 pakkies of eet iemand nie……vleis is te duur om “ekstras ” te koop.

  3. Hugh
    Hugh

    Mense is onkundig en sien nie hoe die kettingwinkels hulle beroof met die pryse wat hulle vra vir die los pakkies vleis wat hulle verkoop nie. Die kwaliteit is ook gemiddeld tot swak. Die slaghuis verskaf nog steeds beter kwaliteit en diens en kan verpakking doen volgens elkeen se behoefte. As die publiek minder geld in hulle hand het hoeveel te meer is dit beter om by n slaghuis te koop met die bedrag wat jy beskikbaar het volgens jou inkomste. Daar word maandpakke by slaghuise verkoop wat volgens jou behoefte opgemaak word. Daar is ook al online slaghuise wat vir jou top gehalte vleis by jou voordeur kom aflaai. Die mense moet regtig gaan kyk wat hy per maand spandeer by die kettingwinkels en kyk wat hulle betaal per kilogram.

  4. Ou Harry
    Ou Harry

    Wys nou maar net dat dit nog heel te mal te goed gaan met ons in SA en dan kla almal ooe die ekonomie, die supermarkgroepe se pryse is oor die alg baie duurder as die slaghuise sin. Dalk moet slaghuise eerder daaraan begin dink om soos ‘n Avbob van ouds al die klein slaghuise regoor SA te algameer dit onder een naam te bestuur en die ” eienaar” doen dit steeds vir sy eie rekening – ‘n kort samevatting van die besigheidsmodel”. Dan ook weer sal slaghuis eienaars dit doen is die vraag want tog wil elkeen sy eie beul bly blaas en sy opisisie se keel afsny soos die Afrikaner se kultuur maar is nie waar nie?


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels