Groot skade is aan ’n waterpan op ’n plaas naby Delmas aangegaan nadat die myngroep, Exxaro, glo onwettig vir steenkool in ’n deel van die pan gemyn het. Die Blou Skerpioene ('n wetstoepassingsagentskap) en die Departement van Waterwese het onlangs by die groep se Leeuwpan-myn naby Delmas ingegryp en werksaamhede daar gestop.
Mnr. Nigel Adams, hoof van die Blou Skepione, sê volgens ’n berig in Beeld dat die groep nie ’n waterlisensie vir die myn het nie. Verder bepaal Suid-Afrika se wetgewing dat geen mynbou aktiwiteite binne 100m van enige waterbron mag plaasvind nie.
Me. Edna Molewa, Minister van Waterwese, het vroeër die jaar in antwoord op vrae van die Demoktariese Alliansie in die parlement gesê sy het die groep gewaarsku dat hy sy lisensie ooreenkoms verbreek deur in die pan en vleie te myn. Sy het die plaas twee keer in Desember verlede jaar besoek om haarself van die situasie te vergewis.
Twee ander myne
Volgens die koerant vind die oortreding op twee ander plase ook plaas, maar Exxaro ontken enige oortredings.
Omgewingskenners waarsku myngroepe al ’n tyd lank dat hulle bedrywighede die opvangsgebied, wat deur die Kruger Nasionale Park vloei, groot gevaar kan inhou.
Mnr. Piet-Louis Grundling, omgewingskunidge, sê in ’n land, soos Suid-Afrika, wat waterskaarste ervaar, is dit noodsaaklik om panne en vleie te beskerm. Die panne in die Hoëveld is glo elkeen uniek, want hulle dra by tot biodiversiteit en die beheer van watervloei na riviere.
Bron: Beeld