Daar is min bewyse dat organies geproduseerde produkte, wat sonder chemiese kunsmisof gifstowwe verbou word, gesondheidsvoordele vir verbruikers inhou. Die tydskrif Time berig op sy gesondheid-blog dat navorsers van die Stanford-universiteit in Amerika bevind het daar is geen statisties bekenisvolle bewyse dat produkte wat organies verbou is, enigsins voedingsvoordele bo konvensionele kos inhou nie.
Verbruikers in Amerika sal tot dubbel betaal vir produkte was organies gesertifiseer is. Die navorsing deur die Stanford-universiteit, wat in die Annals of Internal Medicine verskyn het, dui daarop dat verbruikers meestal hul geld mors deur soveel vir organiese kos te betaal. “Ons het nie oortuigende bewyse gevind dat organiese kos voedingsvoordele vir mense inhou nie,” sê dr. Crystal Smith-Spangler van Stanford.
Siekterisiko nie laer nie
Die risiko om ’n siekte weens besmette kos op te doen, was nie laer vir verbruikers wat organiese kos eet nie tenoor dié wat net konvensionele kos eet. Die navorsers het aangewys dat daar 30% meer gifstofresidue op konvensioneel geproduseerde kos as op organies geproduseerde produkte gevind is, maar dat dié vlak steeds binne goedgekeurde voedselveiligheidsvlakke is.
Organies help dalk teen kanker
Navorsers het wel gevind dat melk en hoenderprodukte wat met organiese metodes geproduseer is, meer omega 3-vetsure bevat. Dié gesonde vetsure kan help om die risiko van hartsiektes te verminder. Organiese produkte bevat ook meer flavonoïede wat kan help om die liggaam teen genetiese skade te beskerm en siekes soos kanker en Parkinson se siekte voorkom. Die wetenskaplikes het gesê dat verdere navorsing nodig is voordat enige betekenisvolle uitspraak oor dié bevindings gemaak kan word.
Smith-Spangler sê die navorsing sal help om verbruikers in te lig oor wat hulle koop. Sy meen daar inderdaad verskille mag wees tussen individuele produsente se produkte, maar dat daar in die algemeen geen bewys is dat organiese kos voedsamer of gesonder as konvensionele kos is nie.
Bron: Time
Praat Saam en deel jou mening.