Parmalat steel kollig met gouda-kaas

Deur Jan Bezuidenhout
20 Maart 2017
ʼn Verouderde Gouda-kaas wat Parmalat vir Woolies maak, is SA se Suiwelproduk van die Jaar, die mees gesogte toekenning in dié bedryf.

Parmalat se Mature Gouda (10 maande) wat uitsluitlik vir Woolworths vervaardig word, is tydens die  Agri-Expo Qualité Toekenningsdinee as 2017 se SA Suiwelproduk van die Jaar bekroon.

Hierdie kaas, ʼn aromatiese en intens-gegeurde kaas, volg in die voetspore van hul 6-maande verouderde Gouda wat hierdie gesogte titel in 2006 ingepalm het.

Agri-Expo sê in ‘n nuusverklaring dat 854 produkte van 83 produsente vir die kampioenskap ingeskryf is. Altesaam 74 beoordelaars uit die geledere van onder meer voedseltegnoloë, kaashandelaars, kosskrywers en bekende sjefs het die produkte beproef. Slegs 16 produkte uit die magdom inskrywings is met die Qualité-kwaliteitsmerk vereer, terwyl 95 as SA Kampioene aangewys is.

Nuwe kategorie vir melk
Selfs ná 183 jaar waarin Agri-Expo hierdie toonaangewende kompetisie met groot sukses en met groot waardering vanuit die bedryf aanbied, is hy steeds voortdurend aan die uitkyk vir innoverende maniere om die proses te vervolmaak. Derhalwe is vanjaar nuwe kategorieë vir gepasteuriseerde melk en UH- melk geskep.

“Ons is maar te bewus van die voorkoms van kwaliteit- en smaakverskille as dit by melk kom en ons is voorwaar verras met die verskeidenheid en gehalte van inskrywings,” sê mnr. Johan Ehlers, hoof uitvoerende beampte van Agri-Expo. “Die beoordelaars het vier melkprodukte as SA Kampioene aangewys: Clover se Prisma UHT Volroom én UHT Laevet, Fairfield Dairy se Woolworths Gepasteuriseerde Melk (Laevet – Ayrshire), sowel as die Woolworths Ayrshire Volroom Melk deur Rhodes Food Group.”

Kwaai mededinging
“Dit is geen maklike taak om die Suiwelproduk van die Jaar uit te ken nie,” vertel mnr. Kobus Mulder, hoofbeoordelaar en internasionale suiwelkundige. “ ʼn Mens moet onthou dat produkte in klasse soos roomys en botter, of maaskaas en skaapmelkkaas met mekaar moet meeding. Om hierdie rede het Agri-Expo ʼn nuwe prosedure ingestel waar die Qualité-wenners teen mekaar opgeweeg word om die mees superieure produk vanuit hierdie eersteklasprodukte te bepaal. Voorheen het die eer bloot die produk met die hoogste algehele puntetelling te beurt geval.”

Altesaam 13 nuwelinge tel onder vanjaar se produsente wat hul produkte ingeskryf het – vyf hiervan maak hoofsaaklik bokmelkprodukte wat die neiging van groei in hierdie nisprodukte gestand doen.

* Vir meer inligting en die volledige uitslae, besoek http://www.cheesesa.co.za


Kommentaar

Een kommentaar op “Parmalat steel kollig met gouda-kaas

  1. nicolaas
    nicolaas

    baia geluk parmelat
    ek hoop die kaas word van plaaslike melk vervaardig


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels