Steve Hofmeyr is een van die kunstenaar wat die veldtog steun. Foto: NICO VAN BURICK
Meer as 1 000 mense het op die eerste dag ná die Stop die Moorde-veldtog bekend gestel is, hul steun daaraan toegesê.
Lede van die publiek het
AfriForum die afgelope week verras met hul steun vir die
Stop die Moorde-veldtog, wat Dinsdag (28 Augustus 2012) in Pretoria bekend gestel is. Meer as 1 000 mense het op die eerste dag wat die webtuiste, www.stopdiemoorde.co.za, in werking gestel is, hul betrokkenheid by die veldtog verklaar.
Mnr. Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van
AfriForum, sê in ’n verklaring die organisasie is baie beïndruk met die publiek se geesdrif om betrokke te raak om die probleem te probeer oplos.
Verskeie van die land se kunstenaars, onder wie Steve Hofmeyr, Chris Chameleon, Bobby en Karlien van Jaarsveld, Pieter Koen en Gerrie Pretorius het by die bekendstelling ’n memorandum onderteken om hul
steun aan die veldtog toe te sê.
PetisieRoets sê hulle het aanvanklik gewonder of die mense wat die webblad besoek, onder die indruk was dat hulle ’n petisie oor dié misdaad onderteken. Hulle het toe die feit dat dít nie ’n petisie is nie, maar ’n veldtog wat op soek is na mense wat bereid is om werklik betrokke te raak, sterker op die webblad beklemtoon.
“Tot ons verbasing het hierdie invoeging op die webblad tot gevolg gehad dat die name nóg vinniger begin instroom het,” aldus Roets.
Die veldtog bestaan uit twaalf stappe. Roets beskryf die stap waar hulle landelike gemeenskappe wil aanmoedig om by veiligheidstrukture betrokke te raak of om veiligheidstrukture daar te stel, as die belangrikste.