Probleme met kwarantyn by perdesiekte?

Deur LBW
12 Mei 2014
Ondanks waarskuwings oor perdesiekte, gehoorsaam rolspelers nie altyd die kwarantyn-reëls nie, meen 'n leser.

Twee nuwe kwarantyn-gebiede vir Afrika-perdesiekte is onlangs in die Wes-Kaap ingestel, maar almal steur hulle klaarblyklik nie genoeg aan die maatreëls nie.

Die Burger het ook berig dat mnr. Wouter Kriel van die Wes-Kaapse departement van landbou bevestig het dat die nuwe kwarantyngebiede sedert Maart in die Wes-Kaap geïdentifiseer is. In Maart is kwarantynmaatreëls in die Porterville-gebied ingestel nadat perde daar aan perdesiekte gevrek het.

Mense uit die gevaargebiede
‘n Leser wat Landbou.com gekontak het, sê hy wil mense in kennis stel oor AHS (African Horse Sickness). “Ek kry daagliks ‘horseboxes’ met een of meer perde in op pad Kaap toe en terug op die N7. Daar is wel mense van die Kaap, maar wat my die meeste ontstel is karre met CEO, CW, CER, CX, CCK, CL, CCD en CK-nommerplate. Hulle is veronderstel om nie hul perde of selfs leë bokse uit daai areas te vervoer nie, maar wat my nog meer ontstel is, is dat van die staatsveeartse vir mense sê dat jy jou perde orals mag vervoer sonder permit, maar as jy jou perd die rooi gebied binne vat mag jy hom wel nou nie terugbring nie, maar die perdeboks mag maar terug kom. Dit kos net een muggie wat iewers saam met ‘n onverantwoordelike mens kom en die siekte verder versprei. Ek het gesien dat ‘n perdeplaas op Klein Dassenberg weg tussen Philadelphia en Malmesbury ‘n perdeskou huisves vir die “WPEC – Western Province Equestrian club” wat op 26 en 27 April was met mense en perde uit die gevaargebiede soos Bonnievale, Barrydale, Robertson, Mcgregor en Worcester ens. Asof dit nie erg genoeg is dat daar baie perde van verskillende gebiede saamdrom nie, waar daar ’n moontlike muggie iewers wegkruip en dalk die siekte hier na ons toe bring en ons perde kom besmet en aansteek. Die staats veeartse sê dat daar aftrekpunte en patrollies is om vir perde bokse te kyk of hul permitte het en te hoor waarheen hul op pad is, maar tot vandag toe het ek nog nie een gesien of van gehoor nie.

“Oor die naweek van 10 Mei sou daar ’n perderit ten bate van Philadelphia se kerk wees waar ook ’n klomp perde bymekaar sou kom en ’n moontlike muggie daar iewers. Kan die mense nie vir hulself dink en hul perde by die huis los tot dat die siekte onder beheer is nie? Die perderit is wel in die groen sone, maar dit vergroot net op ’n verdere uitbreking van die siekte weens ’n onverantwoordelike persoon van die rooi gebied wat dalk die muggie met die siekte kan saam bring.

“Ek sê nie dat dit al die muggies is wat die siekte dra nie, maar dat ek net baie versigtig is (soos baie van my vriende) vir daai enkele muggie. Ek vra nie dat almal vir altyd by die huis bly nie, maar bly net by die huis terwyl die perde siekte aan die gang is en help om dit te bestry.’’

Dr. John Grewar van die Wes-Kaapse departement van landbou se veeartsenykundige dienste het volgens Die Burger gesê perde op 23 eiendomme is in die Porterville- en Wellington-gebied deur die siekte geraak. Hy het gesê altesaam 66 gevalle is aangemeld en tien perde het aan die siekte gevrek. Een geval is ook naby Robertson aangemeld.

Einde April is ook 24 gevalle van die siekte in die Oos-Kaap naby Groenbossies aangemeld, asook verskeie gevalle in die Addo- en Kirkwood-gebied.

Afhanklik van perdegemeenskap
Volgens Kriel geld alle kwarantynmaatreëls steeds en hy het perde-eienaars gemaan om nie hul perde in of uit kwarantyngebiede te skuif nie. “Net ’n staatsveearts kan ’n permit hiervoor uitreik. Ons is grootliks afhanklik van die perdegemeenskap en vra hulle om die reëls na te kom, anders word die hele perdegemeenskap in gevaar gestel.”

Die siekte kom gewoonlik in die laatsomer en herfs voor wanneer muggies volop is.

In ’n nuusbrief wat op 10 Mei vanjaar namens BloodStock South Africa uitgereik is, word ook ’n waarskuwing gerig: “Die onlangse uitbreking van Afrika-perdesiekte het die aantal perde wat in Kleinplasie se verkope-omgewing toegelaat word, verminder, en daarom het ons besluit om die verkoping tot 17 Julie vanjaar uit te stel. Ons vra verskoning vir enige ongerief, maar dit is omstandighede buite ons beheer.”

• Landbou.com het die Western Province Equestrian Club telefonies en per e-pos om kommentaar probeer nader, maar teen druktyd nog geen terugvoer ontvang oor sy siening hieroor en of hy teen lede optree wat die reëls verbreek nie.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.