Altesaam R418 miljard sal volgende jaar aan provinsiale regerings toegeken word, en dié bedrag sal styg tot R478 miljard in die 2015/16 boekjaar. Dié geld moet só bestee word dat dit tot die verskaffing van landboudienste in landelike gebiede bydra.
Mnr. Pravin Gordhan, Minister van Finansies, het Donderdag, 25 Oktober, tydens sy medium termyn-begrotingsrede gesê provinsiale regerings is geoormerk as sleutel-rolspelers in landelike ontwikkeling. Volgens die Nasionale Ontwikkelingsplan gaan dorpe en stede ’n groot rol speel om die land ekonomies en maatskaplik te versterk, en provinsiale regerings gaan hiermee moet help.
“Ons uitdaging aan burgemeesters en stadsrade is om te vir seker hulle dienslewerings masjinerie is voorbereid om ons stede en dorpe te transformeer. Ons ekonomiese vooruitgang en maatskaplike ontwikkeling gaan grootliks bepaal word deur die patroon van landelike ontwikkeling in die dekades vorentoe,” aldus Gordhan.
Groei en fondse
Gordhan sê hulle verwag dat die land se groeikoers vir die 2012/'13 boekjaar sowat 2,5% sal wees, en geen bykomende spandering is vir die begroting vir dié boekjaar voorgestel nie.
Uitvoervolumes het in die tweede kwartaal van die jaar gemiddeld met 6% gestyg, ná dit in die eerste kwartaal met 1,5% gedaal het. Invoervolumes is sowat 4% hoër as die persentasies voor dié ekonomiese krisis. Gordhan verwag dat die land ’n groeikoers van 3% in 2013 sal sal aanteken, wat tot 4,1% in 2015 kan verhoog.
Verder het hy opgemerk dat die Internasionale Monetêre Fonds voorspel dat die wêreldekonomie die jaar met 3,3% sal groei, en dat die globale ekonomie tans nog swak is en in dié toestand sal verkeer vir ten minste ’n paar jaar. Die Minister sê ook dat die land, en spesifiek kommoditeitspryse en internasionale handel, deur stadiger as verwagte groei in China en Indië geraak word.
Hy het sy toespraak afgesluit deur onder andere te sê: “As ’n land staar ons uitdagings in die gesig – maar ons is nie in ’n uiterste krisis nie. Kom ons bewys die pessimiste verkeerd, terwyl ons saam werk om ons visie vir ’n sterk, vooruitstrewende en verenigde Suid-Afrika te bereik.”