‘Regering het nie geld om plase te vat’

Deur Jan Bezuidenhout
10 Januarie 2017
Die kommersiële landbou kan nie die Regering se program vir kleinboere verder ondersteun nie, net om uiteindelik hul plase aan dié boere af te staan nie, meen mnr. Fanie Brink, ʼn landbou-ekonoom.

“Die ANC se hernude aanslag op die politieke stabiliteit en ekonomiese vooruitgang van die land met sy ‘radikale ekonomiese transformasie’ en ‘daadwerklike grondhervorming’ sal Suid-Afrika op sy knieë dwing as gevolg van ongekende ekonomiese agteruitgang, hongersnood en baie groter armoede,” sê mnr. Fanie Brink, ‘n onafhanklike landbou-ekonoom.

Hy sê die Regering se beleid van “radikale ekonomiese transformasie” is niks anders nie as ‘n beleid van “ons wil alles hê om te verdeel om sodoende ons regeringsbewind ten alle koste te beskerm en te verleng tot die ekslusiewe voordeel van die ANC-elite.”

Die herhaalde bedreiging van die herverdeling van grond was geensins onverwags nie en bly steeds die laaste grashalmpie waaraan die ANC vasklou om aan bewind te probeer bly ná 2019. Dit is ook ‘n baie kenmerkend stap wat baie leiers in Afrika gebruik het om hulle diktatorskap te vestig.

Vernietigende beleid
Brink sê die ANC-regering se bankrotskap sal met sy voortgesette onbekostigbare en vernietigende beleid veroorsaak dat daar in elk geval nooit geld beskikbaar sal wees om kommersiële boere vir hulle grond te vergoed nie. Geen wet sal ook ooit geld vir die doel beskikbaar kan maak nie en die verdere herverdeling van grond sal gevolglik bloot op ‘n grondgryp-aksie neerkom, selfs binne die voorskrifte van die Grondwet. As ‘n boer nie die Regering se prys vir sy plaas wil aanvaar nie, selfs nadat die regsproses deurloop is, kan die staat steeds met die onteiening van sy plaas voortgaan teen die prys wat hy wil betaal.

Die tyd het nou aangebreek dat die georganiseerde kommersiële landbou ‘n streep in die sand moet trek om daardeur die Regering te waarsku teen die uiters nadelige politieke onstabiliteit en ekonomiese agteruitgang wat sy grondverdeling vir die land sal in hou. Die vernietiging van die land se produksiepotensiaal sal van Suid-Afrika ‘n permanente voedselinvoerland maak wat uiteindelik van voedselhulp deur die buiteland afhanklik sal raak.

Kan dit nie ondersteun nie
Brink meen die kommersiële landbou kan nie voortgaan om die regering se ontwikkelingsprogram vir kleinboere te ondersteun nie, net om uiteindelik gedwing te word om hul plase aan hierdie boere af te staan nie. Hulle het nou die laaste kans om weg te stap van die Regering se vergrype en vernietigingswerk wat, soos die Regering verlede jaar bewys het, hulle presies niks in die sak sal bring nie.

“Die georganiseerde landbou sal nou dringend ‘n kopskuif moet maak om nie langer as deel van die probleem nie, maar eerder as deel van die daadwerklike verset en optrede teen die aanslag van die Regering deur die kommersiële boere beskou te word.”


Kommentaar

Kommentaar (11) “‘Regering het nie geld om plase te vat’

  1. George
    George

    Agri SA moet eerder daardie kopskuif maak! Hoe lank wil hulle nog die Regering geneë wees? Magtig boere, maak oop julle oë!!

  2. Sensei
    Sensei

    Mnr. Brink is reg. Georganiseerde Landbou volg ‘n paaibeleid met die staat. Max Price van UCT volg dieselfde strategie, en die resultaat is dat die EFF oor Max Price hardloop. Die paaibeleid speel in die hande van die anargiste. ‘n Paaibeleid kan slegs effektief wees indien die organisasie in ‘n posisie van mag is.

    Georganiseerde Landbou sal moet begin onderhandel uit ‘n posisie van sterkte en ophou met die onsuksesvolle paaibeleid. Landbou sal sy regte deur hofaksie moet vestig en dan uit ‘n posisie van sterkte, wat deur die grondwet en howe verleen word, met die ANC onderhandel. Indien landbou nie so ‘n posisie van sterkte kan vestig nie, dan weet ons dat ‘n vertraging van die agteruitgang die enigste oorblywende strategie is.

    Die hersiene koringtarief sal aan almal in die landboubedryf wys waar ons met die staat staan. Indien die tarief afgeskaal word, is dit duidelik dat georganiseerde landbou se bedingingsmag verswak het, en dat landbou slegs die gasheer van die ANC bosluis is.

  3. Philip
    Philip

    Dit het tyd geraak dat die vootbestaan van landbou in Suid Afrika nou in die hande van georganiseerde landbou is en hulle leierskap beproef gaan word om te sien of iemand bereid gaan wees om sy kop op n blok te sit vir ons voortbestaan

  4. Kobus Visagie
    Kobus Visagie

    Dit is presies die agenda van die ANC,
    deur hul oënskynlike aanvaarding van NOP
    en grondhervorming om sodoende die
    georganiseerde landbou te betrek en te verbind ,wat uieindelik op niks sal uitloop nie.
    Vir die doel is die EFF gestig om grond te onteien sonder vergoeding.
    Alles word georkestreer vanuit dieselfde
    oorsprong.
    Die einddoel is ‘n Zim-situasie waar als totniet gemaak is en die witman
    uitgerangeer is tot vlugteling-status.
    Die Weste is nie ons bondgenote nie,
    maar eerder die inusieerders en aanhitsers.
    Daarom het hulle Mugabe toegelaat sonder om ‘n vinger te verroer.
    Wat mnr. Brink bedoel met ;”streep in die sand trek, kopskuif maak” deur georganiseerde landbou, kan net wees deur totale verwerping van die hele
    grondhervormings-proses en demokrasie.
    Dat die witman weer oor homself moet regeer binne die regmatige Boere-republieke.
    As dit nie die modus -operandi sal wees
    nie, blyk ALLES futiel te wees.
    Die huidige aanslag en anargie is maar net
    die begin, en soos Zuma deur Naspers
    aangehaal is , sal 2017 die jaar van
    onteiening wees.
    Almal weet teen hierdie tyd wat gaan vir wat.
    Die realiteit kan nie ontken word nie en
    die slagoffers is die wittes wat daagliks
    vermoor,besteel en verkrag word.
    Sal net graag wil verneem wat mnr. Brink
    se oplossing vir die hele scenario sal wees?
    Aangesien ons tans die probleem ervaar,
    moet daar tog ‘n oplossing wees.

  5. GA Schoombee
    GA Schoombee

    Dit was lankal tyd gewees om vasteskop en sê ons stem nie saam jy werk vir jou eie ondergang maar temin van ons besef dit

  6. Saaiboer
    Saaiboer

    Georganiseerde landbou het die NOP aanvaar, dus het hulle die verdeling van grond aanvaar asook die 50/50 beleid. Hulle is vas, beteken vir landbou op die gebied van eiendomsreg eintlik niks. Dieselfde geheime organisasies wat ons land weggegee het sit nog in georganiseerde landbou, voor daar nie van hulle ontslae geraak word nie is landbou se toekoms in groot gevaar.

  7. R v Tonder
    R v Tonder

    Ek stel voor die boere moet radikale stappe neem tyd van praat en onderhandel kry ons nerens ons, moet strike, al manier wat die regering verstaan, boere het die mag om die land tot op sy kniee te kan bring en moet eise instel veral teen plaasmoorde, duidelikheid oor grond, subsidies moet gegee word, boere moet beskerm word en algeme beeld van boere moet verander

  8. Maarten Kruger
    Maarten Kruger

    Dankie mnr Brink.
    Die probleem is dat die huidige organisasie al die laaste 22 jaar besef dat meer en meer swartes gaan plase koop.
    Sy toekomstige lede gaan grotendeels swart wees.
    Gevolglik wou hy nie standpunt inneem nie want hy was bang dit sou hom toekomstige lede kos en daardie lede is heel moontlik ANC lede ook so hy wou die party ook nie kwaad maak vir hom nie.
    Ons benodig ‘n organisasie wat die belange van toekomsige lede op die hart dra maar wat terselfdetyd besef jy kan nie die belange van die huidige boere daaronder laat lei nie.
    Daarmee se ek nie ons soek ‘n wit rassistiese organisasie nie.
    Maar iemand wat groot genoeg is om die emosies eenkant te laat en wat geen persoonlike agenda het nie.
    Hoe lyk dit mnr Brink, wil jy nie so organisasie vir ons op die been bring nie.

  9. Kobus Visagie
    Kobus Visagie

    Uit bg. kommentare kan mens tot die slotsom kom dat georganiseerde landbou
    ‘n waghond sonder tande is en dat die Boere se belange nie beskerm word nie.
    Sal graag wil weet of hul lede gedienstig
    is met die org. se konsepte en beleid.
    Dat 23 jaar se onderhandelinge net mooi niks opgelewer het nie en dat die Boervolk selfmoord gepleeg het deur die ontbinding van die kommando-stelsel.
    Gewoonlik word die benarde situasie eers
    besef as als te laat en onomkeerbaar
    geword het.
    Ek dink dat elke boer teen hierdie tyd
    goed besef dat die koeël deur die
    kerk is.
    My vraag na telkemale is; Wat staan ons nou te doen??
    Dat ons gestroop is van ons paraatheid;
    Dat demokrasie en versoening nie werk nie;
    Dat onderhandeling en integrasie futiel is;
    Dat ons gereduseer is tot ‘n patetiese
    minderheid;
    Wil dit nou voorkom of alle stutpilare en mat onder ons verkrummel en uitgeruk is.
    Dus blyk daar net EEN hoop te wees,
    dat ons sal terugkeer na die Almagtige van
    Bloedrivier.
    Daardie Boere van 1838 was in ‘n veel
    erger en desperate toestand ons ons tans.
    As daardie Verbonds-gelofte nie meer relevant en geldig is nie, dat kan ons as volk maar totniet gaan .
    Dan is ons erger as ‘ n wederstrewige koei!

  10. Fanie Brink
    Fanie Brink

    Ek dink ons almal besef dat daar nog nie ‘n aanvaarbare oplossing gevind is nie en dat dit ook nie maklik sal wees om dit te vind nie. Ek kan maar net ‘n paar gedagtes in gooi wat oorweeg moet word.
    1. Fokus op die hoofsaak = onteiening sonder vergoeding wat nie deur die voorgestelde regsproses bevredig hanteer sal word nie
    2. Stel voorwaardes wat ononderhandelbaar is duidelik soos geen onteiening sonder vergoeding en sonder ooreenstemming oor die prys van grond nie
    3. Besef dat boere nie alleen gevestigde belange in die landbou het nie maar die hele waardeketting – wat moet aan die inset- en uitsetkant gebeur – gaan die insetverskaffers en kopers net weghardloop as grond sonder vergoeding onteien word of is hulle ons vennote in hierdie proses?
    5. Waar staan ons met ons buitelandse handelsvennote en kan ons op hulle staat maak?
    4. Wat is die VN, IMF, Wereldbank en ander buitelandse geldleners se standpunte en moontlike samewerking in hierdie verband?
    5. Watter groot lande is ons bondgenote en wat kan ons van hulle verwag?
    6. Is daar maniere hoe daar in die insameling van die staat se inkomste, uitgawes en die wanbestuur van belastinggeld ingegryp kan word met die samewerking van buitelandse instansies?
    Ek dink die eerste stap is om nog groter druk op die landbouleiers uit te oefen om alles moontlik te doen om ‘n ramp af te weer en ons voortbestaan te verseker. Die regering en die landbouleiers moet besef dat dit nie gaan gebeur dat plase sommer net gevat gaan word nie! Enige iemand wat so voel is welkom om verdere kommentaar en gedagtes aan my te stuur by sgbrink@telkomsa.net

  11. Grootleeu
    Grootleeu

    Ek glo nie ons boere is heeltemal reg ingelig oor alle punte nie. Daar moet meer van Agri se kant af gedoen word om ALLE boere reg oor die land in te lig oor wat huidiglik gebeur en wat op die tafel is en wat ons regte is. Ek stem saam dat geen onteining huidiglik kan slaag met ons huidge regstelsel in plek nie. Maar dit sal n proses wees wat baie tyd en geld in beslag sal neem om dit af te weer.
    Ek glo nie ons boere gemeenskappe besef hoe sterk ons regtig is nie en wat ons werklike bydra tot die ekonomie is nie….DIt is BAIE mense ….. dit moet uitgespel word vir almal betrokke sodat boer positiewer en groter kan boer en die eiser moet laat herbesin oor sy aksies..Dit moet geopenbaar word op alle vlakke en media.
    Fanie Brink is reg die ANC sal alles en ek meen ALLES in hulle mag doen om die mag posisie te behou en ons Boere gaan ongelukkig in die spervuur wees van nou af .

    As jy na Zuma se toespraak lusiter die afgelope week en tussen die lyne lees dan sal jy dit besef. Ek dink ons moet die regerende partye en die tipe uitsprake wat Zuma maak van onteining aan miljoene mense daag voor die hof …want selfs dit is nie konstisioneel nie . Ons kan nie wag of toelaat dat enige van ons boere se plase ontein word nie …..dit sal n sneeubal effek oplewer en ons almal duur te staan kom.

    DIe ANC is wankelrig en dit is die regte tyd om hulle nou met alles aan te vat………Ons kan slaag in dit en dit sal vir ons ook baie tyd koop…….dit wat ons nou nodig het …..2019 is 2 jaar weg!!

    Droom Groot ,Boer Groot !!


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels