Gesoute speurders wat Sondag (9 September 2012) die moordtoneel
op ’n plaas buite Trompsburg moes besoek, het aan die
TLU SA gesê dit was een van die grusaamste moordtonele wat hulle nog gesien het.
Die voorval word beskryf as een van die aanvalle waar die aanvallers in die slagoffers se huis gesit en drink het terwyl hulle gewag het vir die boer en sy vrou om van die kerk af terug te keer.
Luidens ’n verklaring word slegs ’n .22-rewolwer vermis, terwyl ander wapens in die oopgesnyde kluis agtergelaat is. Die 71-jarige mnr.
Johan Fourie en sy 72-jarige vrou, Cecile, is Sondagaand deur lede van die boeregemeenskap in hul huis gevind.
“Ons kan nie eenvoudig aanvaar dat roof die motief vir hierdie moord is nie,” aldus mnr. Henry Geldenhuys, ondervoorsitter van die TLU SA. “As hulle wou gesteel het, was daar genoeg tyd om te neem wat hulle wou en weg te kom, sonder om eers mense te martel en uiteindelik te vermoor.”
Politieke moordeGeldenhuys sê hulle is bekommerd oor die feit dat dit voorkom of ’n onderskeid getref word tussen kategorieë van mense wat vermoor word.
“Die afgelope reeks moorde in Natal, waar dit skynbaar ANC-ampsdraers was wat vermoor is, is dadelik beskryf as politieke moorde, en die spesiale ondersoekeenheid, die Valke, is ingespan om die moorde te ondersoek. Dié aanname is gemaak nog voordat enige verdere leidrade oënskynlik opgevolg is. Die regering kan nie ANC-lede bevoordeel bo die landbougemeenskap wat vir voedselsekerheid moet sorg nie,” sê Geldenhuys.
BenaderingVolgens Geldenhuys vra die organisasie al jare lank dat dieselfde benadering gevolg moet word rakende ondersoeke na plaasmoorde.
“Die Trompsburg-voorval bewys die noodsaaklikheid daarvan omdat ander motiewe ter sprake blyk te wees. Dit is al jare lank bekend dat die
TLU SA sê ander motiewe sit agter die plaasmoorde en dat dit die plig van die Staat is om dit behoorlik te ondersoek.”
Boere word intussen gemaan om op hul hoede te wees en hulle te beveilig.