Die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) wil die verbruikerspryse van rooivleis ondersoek omdat dié pryse skynbaar nie met produsentepryse ooreenstem nie.
Mnr. John Durr, voorsitter van die Wes-Kaapse RPO, het op die RPO se kongres in KwaZulu-Natal voorgestel dat ’n formele ondersoek van stapel gestuur word om uit te vind hoekom verbruikers nie voordeel trek uit dalende produsentepryse nie.
Mnr. Neels de Villiers, voorsitter van die Vrystaatse RPO, het dié mosie gesteun. “Die produsenteprys van skaap- en beesvleis het sedert Januarie vanjaar skerp gedaal, maar die verbruikersprys het nie die dalende plaashekprys gevolg nie.”
De Villiers sê omdat die prysvoordeel nie aan verbruikers deur gegee word nie, lei dit tot ver bruikersweerstand, wat beteken dat produsente markaandeel verloor. Die Vrystaatse RPO het die afgelope jaar ’n studie gefinansier wat dié neiging bevestig het.
Durr het verder gesê dat ’n plan beraam moet word sodat elke skakel in die waardeketting vir hul eie flaters betaal. Indien ’n supermark of slagplaas ’n fout maak, word die koste daarvan tans eenvoudig by verbruikers verhaal, sê Durr.
Die voorstel is aanvaar, maar sommige gehoorlede was skepties. Een van die argumente was dat ’n produsent nie byvoorbeeld aan ’n kleinhandelwinkel kan voorskryf wat hy vir ’n produk moet vra nie omdat hy sy eie winsgrense kan vasstel.