Bale. FOTO: ANNEMARIE SMUTS
Duisende bale voer, weiding vir meer as 1 200 stuks vee, kontant en energieblokke is aan boere met brandskade geskenk.
Groot waardering word uitgespreek teenoor verskeie boere wat hul hande en harte oopgemaak het om boere in die Vrystaat wat brandskade gely het, by te staan.
Die Vrystaatse Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) is sedert die naweek van 9 Augustus oorval met skenkings vanuit die Vrystaat, Noord-Kaap en Oos-Kaap.
Tot op hede is 2 390 bale en twee vragmotor-vraghouers se verskillende soorte voer aangebied. Weiding vir 1 230 stuks vee, en nóg 300 ha weiding is ook beskikbaar gestel. Drie boere van Victoria-Wes het aangedui dat hulle kontantskenkings wil doen.
Mnr. Neels de Villiers, voorsitter van die Vrystaatse RPO, sê Voermol het ook aangedui dat hy 48 ton energieblokke aan boere sal skenk, terwyl Molatek korting op voer sal gee. Dié korting sal deur landbou-ondernemings VKB en BKB gehanteer word.
Brandtoestande
Intussen sê mnr. Malcolm Procter, adjunkdirekteur van bos- en veldbrandoorsig van die Vrystaatse departement van landbou, bosbou en visserye, geen brande is sedert Maandag by hom aangemeld nie. Hy sê sedert die begin van die brandtyd het 177 777 ha veld al vanjaar in die slag gebly.
“Ons is wel bekommerd oor die brandtoestande waaroor die Weerburo van Woensdag (22 Augustus af) in die sentrale dele van die land gewaarsku het,” aldus Procter.
Enigiemand wat nog skenkings wil doen, is welkom om die Vrystaatse RPO by vrystaatrpo@vodamail.co.za of 051 451 2314 te bel.