’n Kleiner as verwagte oes van tafel-aartappels in Limpopo kan oor die komende weke lei tot hoër pryse vir verbruikers. Mnr. Sampie Roets, verteenwoordiger van Aartappels Suid-Afrika (ASA), sê die skade wat ryp in Mei vanjaar aan aanplantings aangerig het, was groter as wat aanvanklik verwag is.
Roets sê sowat 15% van die aanplantings is in die begin van Mei deur ryp beskadig. Die aanplantings wat in die middel van Mei onder ryp deurgeloop het, het sowat 25% se skade opgedoen, terwyl die aanplantings wat aan die einde van Mei getref is, sowat 40% skade gehad het.
“ ’n Aartappelplant wat vroeg ná aanplanting beskadig is, herstel makliker. Dis hoekom die skade aan die einde van die groeiseisoen groter is,” verduidelik Roets.
Volumes 40% minder
Volgens Roets het die volume aartappels wat tans na markte vervoer word, met 40% afgeneem. Die grootste gedeelte van dié oes sal gedurende Oktober en November vanjaar aan markte gelewer word.
Roets sê 70% van die land se totale lewering van tafel-aartappels is uit Limpopo afkomstig. Aangesien aartappelpryse deur vraag en aanbod bepaal word, verwag hulle dat verbruikers gedurende dié maande duurder gaan betaal.
Na verwagting sal die situasie teen die feestyd herstel, wat tot laer pryse kan lei. Limpopo is Suid-Afrika se grootste produksiestreek van tafel-aartappels, met sowat 5 500 ha wat aangeplant word.