SA nasie kort ʼn wenplan

Deur Carien Kruger
13 September 2017
Suid-Afrika moet hom meer daarop toespits om as ʼn nasie internasionaal mededingend te wees.

“Hoe is dit dat ons in Suid-Afrika onsself so in die verlede vasgevang kry en die konteks waarin ons sake doen, vergeet?” het dr. Herman van Schalkwyk, groepshoof van Suidwes Landbou, by Agri Noordwes se jaarkongres gevra.

Hy meen die land spits hom te veel toe op bedreigings, pleks van gesamentlike groeimoontlikhede. “Is ons ʼn nasie wat wil wen? Dit is belangrik dat Suid-Afrika die nasie-konsep weer opneem en ons onsself afvra hoe ons strategiese plan lyk om te wen.”

Innovering
Doeltreffendheid word deur arbeidsonrus, arbeidswetgewing en die beleidsomgewing in die wiele gery. Ironies genoeg sal beter produktiwiteit tot hoër lone lei, omdat eenheidskoste dan laer is. Dit sal ook tot laer inflasie lei.

“Een van die faktore wat inflasie aanwakker, is wanneer jou produktiwiteit laer as ander lande sʼn is.” Van Schalkwyk het gesê ʼn land wat meer doeltreffend is, kan meer ontwikkel rakende gesofistikeerdheid en unieke produkte daarstel.

Suid-Afrika skenk volgens hom te veel aandag aan die prys en gehalte van sy produkte om mededingend te wees, pleks van aan innovering en vernuwing. “ ʼn Mededingende voordeel is die resultaat van vinnige innovasie en verbetering, en nie van statiese voordele nie.”

Lae vlakke van belegging (weens onsekerheid oor sake soos grondhervorming en grondplafonne), regeringsbeleid, en lae besteding aan navorsing en ontwikkeling belemmer die landbou se produktiwiteit. Landbouskuld styg en die verhouding tussen kapitaalvorming en skuld neem af, wat beteken vir elke bedrag wat geleen word, word minder en minder in kapitaal op plase bestee. Dit bevestig dat belegging in die landbou afneem.

“Ons staan nou by die punt waar ons moedeloos is, maar moet ons nie anders onderhandel nie? Moet ons nie, weens die landbou se moontlikhede om werk te skep, vakbonde ons vennote maak nie? Behoort dit nie vakbonde te pla as daar oor grond gepraat word nie?”

Plaaslike vraag
Van Schalkwyk sê voorts dit is tot ʼn land se voordeel indien hy veeleisende verbruikers het, want “dit laat jou beter meeding”. Dit is dus belangrik om die plaaslike mark te ontwikkel, wat insluit dat die armer deel van die bevolking meer gesofistikeerde verbruikers word.

Volgens hom is daar ʼn gebrek aan innoverende binnelandse wedywering, terwyl plaaslike mededinging noodsaaklik is vir wêreldwye mededingendheid.


Kommentaar

Kommentaar (2) “SA nasie kort ʼn wenplan

  1. mkruger
    mkruger

    Skuus mnr van Schalkwyk jy woon seker tans nie in die RSA nie daarom is jy nie bewus van die land se wenplan nie.

    Die land het ‘n lieflike wenplan waarby baie(‘n groot meerderheid van ons wit boere) al ingekoop het.
    Misdaad.
    Ons wette is so dat dit die misdadiger beskerm.
    Ons boere glo dit is aanvaarbaar om die ontvanger en medeboere te besteel.
    Veral as dit by BTW kom.
    Die SAPS het van die beste polisiediens in die wereld gedaal tot seker die slegste in die wereld.
    En weet jy wat.
    Hier is niks verkeerd met die plan nie.
    Die voorsitter van die plan is ons eie president en sy ANC kaders.

    Ons gaan onsself ryk steel.
    Dit is ons wenplan.

  2. Kobus
    Kobus

    Netjiese kommentaar en raak saamgevat.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels