Die wanopvattings wat volgens ’n opname onder jong mense oor
hidrobreking bestaan, is ’n teken dat die staat nie ’n behoorlike openbare proses daaroor onderneem het nie, sê die Treasure the Karoo-aksiegroep (
TKAG).
Mnr. Jonathan Deal, voorsitter, sê dié opname sal moontlik in die hof gebruik kan word as dié mynmetode en die ontginning van skaliegas in die howe beveg moet word.
“Dit bevestig net ons verwagtinge dat openbare raadpleging daaroor ’n absolute grap is,” aldus Deal. Hy sê dié studies sal gebruik kan word om die staat te dwing om na die begin terug te keer om ’n voldoende openbare raadplegingsproses te onderneem.
OpnameLuidens ’n
berig in
Die Burger is ’n peiling onder sowat 3 000 jong mense in die land gedoen. Sowat 26,1% van dié groep, tussen die ouderdomme van 15 en 34, glo
hidrobreking of fracking is ’n seksdaad. ’n Verdere 33,8% van die respondente het gemeen dit is ’n manier om jouself teen sonbrand te beskerm. Altesame 24,7% van die groep deelnemers het werklik geweet wat dit is.
Me. Shirley Wakefield, woordvoerder vir Pondering Panda, sê die vrae is so ontwerp dat diegene wat nog nie van hidrobreking gehoor het nie, uitgeskakel is voor die vraag oor wat hulle dink die tegniek behels. So is vasgestel dat net 37,7% van die groep al van die mynmetode gehoor het.
Slegs die deelnemers wat die regte antwoord op die tweede vraag gekies het, is gevra of hulle bekommerd is daaroor. Altesame 85% het aangedui dat hulle bekommerd of baie bekommerd is daaroor.
MarkinorDeal sê dié opname is gedoen onder dubbeld soveel individue as die studie wat Markinor vir Shell onderneem het. Die navorsing deur Markinor het bevind dat tussen 70% en 75% van die respondente ten gunste van hidrobreking en skaliegasontginning was.
“Net soos wat ons nie die studie (deur Pondering Panda) kan gebruik as basis om te sê dit moet nie plaasvind nie, kan Shell dus ook nie hul studie gebruik ten gunste daarvan nie,” aldus Deal. Aangeheg by dié berig is die verslag oor skaliegasontginning in die Karoo.
Bron:
Die Burger