Die kwessie van plaasmoorde het onlangs op die agenda van die Europese Parlement (EP) verskyn. Mnr. Philip Claeys, ’n Belgiese politikus, het dié versoek aan die EP gerig om te sê dit help nie meer om “mooi briefies” aan die ANC-regering oor plaasmoorde te skryf nie.
“Die moorde, soos dié op die Fouries, gaan nie oor armoede nie. Moorde op boere gaan gepaard met gruwelike marteling en is wreedaardig. Die Europese Unie (EU) en EP moet sanksies teen Suid-Afrika instel,” haal Volksblad Claeys aan.
Kyk hier na 'n video van die toespraak:
Dié versoek het gevolg ná die wrede moorde op mnr. Johan Fourie en sy vrou, Cecile, op hul plaas naby Trompsburg vroeër vandeesmaand. Mnr. Nico Kruger, seun van die egpaar, sê hy weet wel nie of sanksies sal help nie. “Ek weet nie of die Regering hom aan Europa steur nie. China is al wat vir hom belangrik is.”
Regering min gepla
In kommentaar op dié opmerkings en versoek sê mnr. Clayson Monyela, woordvoerder van die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, dat dié departement nie kommentaar kan lewer op “elke klein toesprakie deur individue nie”, en dat hulle hulle nie juis aan sulke beroepe steur nie.
“Daar is geen styging in plaasmoorde nie. Misdaadstatistieke toon ’n afname in plaasmoorde. Dié man (Claeys) weet nie wat in Suid-Afrika aangaan nie,” aldus Monyela.
Dr. Pieter Mulder, Adjunkminister van Landbou, Bosbou en Visserye, sê hy verwelkom enigiets wat moorde op Suid-Afrikaanse boere op die internasionale agenda plaas. Hy meen dat dié kwessie nie moet sloer totdat dit die afmetings begin afneem soos in Zimbabwe nie. “Hoe meer internasionale aandag plaasmoorde kry, hoe beter. Al irriteer dit die ANC.”
Vind meer uit oor misdaad in jou area: Kliek hier om na 'n interaktiewe kaart van misdaad in Suid-Afrika te kyk.
Bron: Volksblad