Skamele reën bring weinig verligting

Deur Verslaggewer
14 Julie 2017
Hoewel boere dankbaar is vir die reën wat op 9 Julie oor groot dele van die droogtegeteisterde Wes-Kaap geval het, was dit veels te min om ’n noemenswaardige verskil aan damvlakke en grondvog te maak.

Mnr. John Slabbert, koringboer van Skilpadvlei naby Moorreesburg, het 5,5 mm reën op 9 Julie gemeet. “Elke week val daar bietjies-bietjies reën. Die koring het later opgekom en die seisoen is later. Die grond lyk groen, maar dis nie lekker nat nie.”  Tog probeer hy optimisties bly en glo goeie reën is op pad.

Mnr. Francois Eksteen, skaap-en- koringboer van Piketberg, sê hy is moedeloos, want weiding is min en die ruvoer is op. Eksteen het verlede naweek 8,5 mm en 9 mm op sy twee plase gemeet.

“Ons het opvolgreën nodig. Die grond is nie goed nat nie. Ons kan daarom nie ontspan nie, maar ons is optimisties.”

Mnr. Hennie Visser, ook van Piketberg, het 10 mm reën op sy plaas gemeet. Vanaf September tot Junie was daar feitlik geen reën nie.

Hy sê boere is redelik pessimisties weens die ongunstige weerstoestande. Ná die koringtarief verlaag is, is dit selfs nóg moeiliker om teen die huidige pryse wins te toon. “Nou moet ons opbrengste hoër wees, maar met die droë toestande kry ons nie goeie opbrengste nie,” sê hy.

Vrugte
Intussen raak die kans op langtermynskade en verliese aan vrugteboorde ook ál groter. Volgens mnr. Robert Zulch, vrugteboer van die Witzenbergvallei, is die grondvog al redelik goed aangevul ná enkele reënbuie in Mei en Junie, maar die water het nog nie begin loop nie.

Mnr. Fanie van der Merwe van Bronaar Plase in die Koue-Bokkeveld het tans net genoeg water vir 80 ha van sy 250 ha vrugteboorde.

“Indien daar nie goeie reën vir ’n lang tyd val nie, gaan ons vir slegs 50% tot 60% van ons bome genoeg water hê. Dit is die eerste keer in die boerdery se geskiedenis en in meer as 100 jaar dat hier nie genoeg water op die plaas is om mee te boer nie,” sê hy.

Volgens die produsente-organisasie Hortgro gaan daar vanjaar bykans 10% minder appels en 6% minder pere wees as wat in 2016 geproduseer en bemark is.

– Lisa Lottering en Johan van der Merwe


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels