’n Skikkingsooreenkoms waarvolgens die ANC sy ondersteuners sal aanmoedig om nie “
Skiet die boer” te sing nie, sal Donderdag (1 November 2012) aan die
Appèlhof in Bloemfontein vir bekragtiging as ’n hofbevel voorgelê word.
Die ANC, mnr. Julius Malema, AfriForum en die TLU SA het dié ooreenkoms Woensdag (31 Oktober 2012) aangekondig.
Dié stap volg ná onderhandelinge buite die hof versoek is aangaande die haatspraaksaak wat teen Malema aanhangig gemaak is. Die party het later tot die saak toegetree.
OoreenkomsDie ooreenkoms bepaal dat
die ANC en Malema erken dat minderheidsgroepe sekere woorde in sogenaamde struggle-liedjies as kwetsend en skadelik kan ervaar. Luidens ’n verklaring het die party en Malema onderneem om hul ondersteuners aan te moedig om met selfbeheersing op te tree om “die ervaring van sulke kwetsing te vermy.”
“Die partye het ooreengekom dat dit uiters belangrik is om wedersydse erkenning en respek te toon vir die reg van alle gemeenskappe om hul kulturele erfenis en vryheid te vier en te beskerm,” lui die verklaring. Die vier partye het hulle ook verbind tot voortgesette formele dialoog om begrip vir die onderskeie kulture en erfenisse te bevorder.
Mnr. Kallie Kriel, hoof uitvoerende beampte van
AfriForum, sê hulle is baie tevrede met die ooreenkoms: “AfriForum se optrede was van die begin af daarop gemik om te voorkom dat kwetsende liedjies oor Afrikaners gesing word. Hierdie ooreenkoms, waarin die ANC homself in ʼn hofbevel gaan verbind om die gebruik van kwetsende woorde in liedjies te vermy, is presies wat AfriForum wou bereik.”
Hou
Landbouweekblad dop vir meer inligting in die verband.