‘Slaan munt uit wêreld se woltekort’

Deur Johan Norval
20 Maart 2017
Die tyd is nou ryp vir plaaslike wolboere om munt te slaan uit die wêreldtekort aan wol, sê bedryfsleiers.

Plaaslike wolprodusente moet van die geleentheid in die mark gebruik maak om munt te slaan uit die leemte in wêreldproduksie, sê mnr. Louis de Beer, uitvoerende hoof van Cape Wools.

“Die tyd is nou ryp om tot die wêreldwye marktekort van sowat 25 miljoen kg wol by te dra.” Hy het produsente op die Vrystaatse kongres van die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) by Brandfort aangemoedig om hulle produksie te verhoog deur in die bedryf te belê.

“Daar is na ons mening ’n gaping in die mark vir die bykomendeproduksie van sowat 25 miljoen kg wol wat hoofsaaklik teweeggebring word deur ’n afname in die Australiese produksie van 350 miljoen kg wat na 330 miljoen kg of 320 miljoen kg afgeneem het, afhangende van hoe die statistiek vertolk word,” sê hy.

‘Belê nou in wolbedryf’
Volgens hom is die plaaslike produsente nog nie aktief op verhoogde wolproduksie toegespits nie. “My raad aan die jong ondernemer is om sy bates nou in die wolbedryf te belê, aangesien die vraag die aanbod tans baie oorskry.”

Mnr. Guillau du Toit, die NWKV se nasionale voorsitter, het produsente gemaan teen oorgerustheid in ’n tydperk waarin dit goed met die wolbedryf gaan. Een van die aspekte waarteen produsente moet waak, is ’n verswakking in die gehalte van die klassering van die nasionale skeersel, veral in saaigebiede en deur produsente wat nie finansieel van hulle wolproduksie afhanklik is nie. “Produsente moet hulle verantwoordelikheid deur die hele skeerproses nakom, asook die aspekte rondom biosekuriteit op die plaas.”

Dieresiektes kom voor na reën
Dieresiektes wat nou in natter omgewings ’n bedreiging is, is byvoorbeeld Slenkdalkoors en Johne se siekte. “Die verantwoordelikheid begin by die produsent op plaasvlak wat nie net op die ander rolspelers in die pyplyn afgeskuif moet word nie,” sê hy.

Prof. Gareth Bath, emiritus-professor wat op ’n nasionale vlak by dieregesondheid betrokke is, het produsente gewaarsku teen die aankoop van kleinvee van twyfelagtige herkoms wat die biosekuriteit van hulle kudes kan bedreig. “My boodskap is: Wees bedag op wat jy vir jou kudde aankaf. Boere moet ook die wolskaap se beeld as ’n skoon, gesonde en ‘groen’ dier bevorder waarvan die produkte vleis en wol met vertroue bemark kan word,” sê hy.

“Goeie produksiestandaarde en die welsyn van die diere dra geensins by tot die koste van volhoubare skaapboerdery nie. Daardeur kan produsente hulle wins verhoog en terselfdertyd die beeld van de wolskaap verbeter.”


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels