Die ontploffing in die mynbedryf het nie spontaan gebeur nie. Dit is die resultaat van die politieke hongerdieet wat die ANC dekades lank aan sy ondersteuners gevoer het, sê mnr. Flip Buys, uitvoerende hoof van die vakbond Solidariteit.
Hy het op die TLU SA se jaarlikse kongres in Pretoria gesê kiesers is beloof dat politieke mag regstreekse ekonomiese voordele sal bring. Dit is vandag duidelik dat die ANC met die destydse Kodesa-onderhandelings tydelike toegewings gemaak het om die politieke mag te kry. Nou dat hy die magsbalans verander het, gebruik hy die mag om die oorspronklike doelstellings te verwesenlik.
Volgens hom berus dit op twee bene – een politiek/kultureel en een ekonomies. Die politiek/kulturele been gaan oor die inlywing van minderhede by die ANC as Afrika-organisasie. Die minderhede moet verdwyn in die groter geheel.
Politieke mag bekom
Die tweede been gaan oor ekonomiese gelykmaking deur ’n proses van herverdeling. Die oorsprong is die Marxistiese gelykmakingsbeleid waar die politieke mag eers bekom word en dan die ekonomiese mag.
“Die ANC doen dit op ’n gesofistikeerde manier en dit word geregverdig met ’n dik roomsous van demokrasie, menseregte, wetgewing, politieke propaganda en die kriminalisering van die Afrikaner se geskiedenis.”
Buys sê hierdie inlywing en gelykmaking veroorsaak dat landsburgers (nie net Afrikaners nie) se vryheid stelselmatig en planmatig deur die Regering weggekalwe word. Die gemiddelde sake-onderneming word beheer deur sowat 2 800 wette en 5 000 regulasies. “Dit is hoe die staat al die vryheid van die private sektor ingekort het. Ek is byvoorbeeld nie bekommerd dat die myne genasionaliseer sal word nie. Daar is niks meer om te nasionaliseer nie. Die staat het die minerale regte, daar is swart ekonomiese bemagtiging en daar is regstellende aksie. Die beginsel wat geld, is om nie die koei te vat nie, maar om hom net vas te bind en die melk te vat.”
Buys glo die belangrikste rede hoekom daar nie meer
Afrikaner-eenheid is nie, is nie oor getalle nie, maar oor die yl verspreiding van Afrikaners oor die hele land. “Ons is ’n krimpende en ongewilde minderheid in ’n staat wat besig is om te Afrikaniseer.”