Deur ALANI JANEKE
18 April 2012

3080 keer gelees | 16 kommentaar

Emosionele kommentaar oor die speenkalf- en/of voerkraalbedryf deur mense wat nie die ingewikkeldhede van dié bedryf verstaan nie, verbaas hom, sê mnr. Dave Ford.


Mense wat bereid is om emosionele kommentaar oor die speenkalf- en/of voerkraalbedryf te lewer as hulle nie die ingewikkeldhede van dié bedryf mooi verstaan nie, verbaas hom, sê mnr. Dave Ford, uitvoerende direkteur van die SA Voerkraalvereniging (SAVV).

Hy sê vraag en aanbod is die enigste prysbepalende kriteria in die Suid-Afrikaanse vleisbedryf en alle rolspelers moet dit besef.

Ford het reageer op ’n blog wat op Landbou.com verskyn het, waarin geskryf is dat vleispryse aan boere deur agt nie-openbare maatskappye bepaal word.

Volgens Speenkalf se blog vind massiewe vertikale integrasie in die veebedryf plaas, met die groot agt vleismaatskappye – wat elkeen ’n abattoir het en wat deel is van die Rooivleis-abbattoirvereniging. Hulle het glo ook vleisverwerkingsaanlegte en verskaf snitte aan kettingwinkels.

‘Bel die groottes se aankopers’
“So, aanvaar dit nou maar, dié dinge word deur agt nie-openbare maatskappye beheer. Alle mense wat speenkalwers wil koop, ek praat van die ander 63, bel die groottes se aankopers om te hoor wat hulle betaal... daar het ons 'n prys.. nie altyd vraag en aanbod nie,” lui die blog.

Nóg ’n blog oor speenkalfpryse het op Landbou.com verskyn: Dit en dat oor speenkalfpryse.

Ford sê die uitvoerende komitee van die Voerkraalvereniging het net so min die dalende speenkalfpryse gemanipuleer as wat hulle die styging tot R21,50 per kg gemanipuleer het.

Hy het in ’n brief aan Landbou.com spesifiek tien punte uitgelig in ’n poging om meer lig op die situasie rondom pryse te werp.

Styging in speenkalfpryse

Die eerste van dié punte fokus op lamsvleispryse wat van die middel van 2011 af onrealisties hoog gestyg het, met mediaberigte wat berig het dat boere R70 per kg teen Kersfees kon verwag.

“Dit het voorspelbaar nie gerealiseer nie en teen ’n produsenteprys van R57 per kg vir ’n karkas, het die verbruiker begin wegbeweeg na ander vleissoort-opsies met ’n gepaardgaande groot verlies in markaandeel.”

Terselfdertyd sê Ford, het die vraag na beesvleis onrealisties begin styg, wat gelei het tot ’n styging in speenkalfpryse en die pryse van teeldiere. “Die voerkrale kon byna nie voorbly in die vraag na graangevoerde beesvleis nie, en die speenkalfprys het nóg verder gestyg as gevolg van die verhoogde vraag.”

Ford sê ná dié gebeure het staangetalle in voerkrale tot ’n rekordgetal van 500 000 op enige gegewe tyd gestyg. Dit het druk op die voorraad “hominy chop” -voer (die afvalproduk van die witmielie-maalbedryf) geplaas. Die prys van dié produk was toe R1200 per ton hoër as die prys gedurende dieselfde tydperk in 2010.

Volgens Ford het die individue op die agtergrond en spekulante “ingeklim” en tot R26 per kg betaal vir ligte kalwers in ’n seisoen waar droë toestande in groot dele voorgekom het.

Dié toestande het tot verswakte weidingstoestande en swak groei gelei. “Die beesvleisprys vir A-klas het by R35 per kg gedurende die feestyd gedraai en die gemiddelde speenkalfprys het in daardie tydperk tot R21,50 per kg geklim.”

Karkasmassa het gestyg
Ford sê met die verhoogde graanprys moes voerkrale langer voer. Die verlaagde voermarge wat voorgekom het asook die gemiddelde aantal staandae, wat ná 140 dae gestyg het – met ’n gepaardgaande hoër totale karkasmassa – het tot ’n moontlike verdere verlaging in markpryse gelei.

Die totale karkasmassa het met sowat 30kg karkas per kop of 3000 ton per maand gestyg.

Ná die afloop van die feestyd het die verbruiker weens ekonomiese druk minder aangekoop, terwyl ’n ooraanbod van beesvleis op die mark was. Ford sê die ooraanbod is veroorsaak deur getalle en bykomende karkasmassa per eenheid. Dié faktore het gelei tot groot verliese in die mark.

Wat voer betref sê Ford die SAVV meen die Oesskattingskomitee is met ’n minimum van 1 miljoen ton té optimisties” oor die oes wat tans op die lande is. Hy sê hulle verwag dat ’n meer akkurate beraming verdere opwaartse druk op die mielieprys gaan plaas, en dat dít die voerkraal marge verder gaan laat afneem.

“Die speenkalfprys maak 65% en voerkoste 28% uit van die totale voerkraalkoste om die karkas finaal aan die haak te kry. Die speenkalfpryse sal onder druk bly gedurende die speentyd, terwyl voerpryse ’n stygende neiging toon,” aldus Ford.

18 April 2012


Kommentaar
Slegs in Afrikaans


Onbekende besoeker

2012/05/01 08:24:11 PM

Hy sal dit mos nooit laat doen,want dit is vol oneerlikheid en onderlinge geknoeiery met veilingskrale en groot rolspelers.


Onbekende besoekerwillie viljoen

2012/05/01 11:53:27 AM

Maklikste oplossing MNR FORD! Hoe gouer n ondersoek op jul doen en late gedoen[gelas] word hoe beter. want dan sal ons mos sien wie verstaan die bedryf en wie nie, as die uitslae bekend is!


Louis Barnard

2012/04/20 03:14:24 PM

Ek ken mense wat groot vleis aankopers is vir hul biltong fabriek. Soos wat my speenkalfpryse elke week afkom, gaan hul vleispryse elke week op. Kyk gerus wat het gebeur met biltong en droë wors pryse ! Is daar dalk 'n mark vertraging ingebou ? Ek twyfel........... Maar ons vertrou tog dat die huidige lae speenkalf pryse sal realiseer in goedkoper vleis voordat die volgende siklus kom.....


JDT

2012/04/20 02:57:38 PM

Ons as produsente moet eienaarskap van ons produk neem by die publieke verkoopspunte(supermarkte,slaghuise)konfroteer die eienaars oor die pryse wat hul vir snitte vra.Hoe meer mense dit doen hoe gouer sal hul agterkom dat pryse gemonitor word deur die verbruiker.Sorg dat jy weet hoe n bloktoets werk en wat snitte moet kos(op Landbouweekblad se web).As produsent se pryse sak moet verbruikerspryse na 2 weke begin sak anders word dit nie deugegee nie.Dan sal almal mos tevrede wees.


Onbekende besoeker

2012/04/20 02:05:17 PM

Alani Die Universiteit in BFN het navorsing hieroor. Vra hulle om bietjie grafieke van produsente- en verbruikerspryse vir ons te verskaf.


Spiere

2012/04/20 01:26:47 PM

Mnr Ford se: "Ná die afloop van die feestyd het die verbruiker weens ekonomiese druk minder aangekoop, terwyl ’n ooraanbod van beesvleis op die mark was." As die vryemark beginsel in die rooivleis bedryf geld, waarom het die prys wat die verbruiker betaal, nie sedert Des 2011 gedaal nie? Want die vraag na rooivleius het dan volgens u opmerking gedaal! Waarom kos sekere Karan snitte, tans by Nigel Spar R158/kg? Nee wat Mnr Ford, die vryemark beginsel geld net vir u,en die Voerkraal bedryf, wanneer dit u pas!!! As Veeboere en rolspelers wat deur Voerkrale uit gebuit word, soms volgens u,emosioneel raak in hul kommentaar, wees verseker dit is net, omdat.... al boer ons met beeste, impliseer dit nie, dat Veeboere onder n kalkoen uit gebroei is nie. Dit is n feit, dat Voerkrale nie net die Veeboer nie, maar ook die Verbruiker n rat voor die oe draai, ..... of in algemene omgangs taal uitgedruk ..... bedonner. Om vir die Vleis beesboer en die verbruiker te vertel: "Dat perde drolle eintlik vye is", gaan nie hierdie keer die stof laat le nie! Ek kan nie wag, dat die Voerkraal beryf ondersoek word deur die Mededings kommissie nie!!! Dit sal n jeugdige dag vir die verbruiker en die veeboer wees.


Albe Blay

2012/04/20 12:51:50 PM

Ish dit verstom my, toe die kraal R21/kg betaal het was die herrie nie los nie hoekom ? Dink jy die styging in die kalfprys die laaste agtien maande was volhoubaar? Enige aap kon sien daaris moeilikheid op pad ! Almal wil hulle produk verkoop en 'n produk se prys word bepaal deur die beste aanbod op die dag. Hierdie probleem is eerder 'n waardeketting wat nie saam werk nie, ek het geen probleem daarmee as ek 35% minder vir my kalf kry solank die verbruiker 35% minder vir sy vleis gaan bepaal nie. Almal moet waarde vir geld kry dit raak 'n al groter probleem in Suid Afrika. Indien dit nie gebeur nie is vertikaal geintegreerde "vleis" besigsheid ons voor land, soos ek dit sien sal dit nou se doen en late van die vier groot supermarkte laat lyk soos kinderspeletjies tensy ons kompetiese in mark kan kry !


Kwapie Scheepers

2012/04/20 12:15:02 PM

Die uitsprake van die Fordtjie (wat ook namens die Chevs praat) wys hoe arrogant die middelman in die SA ekonomie is. Hy insinueer dat ons as boere te onnosel is om die ekonomie te verstaan. hy gee ook nie om dat hy op die produsente se tone trap nie, want hy en sy mede-bosluise is mos die enigte manier hoe die boer se bloed bemark kan word! As die Tiger oats en kie 'n groot boete oor "prysvorming" op die lyf kon loop oor broodpryse, is die koukus oor speenkalfpryse net so onwettig. Miester Ford, moet nou nie dat ons klomp wat volgens jou nie die beginsel van vraag en aanbod verstaan vir jou sê dat ons maar te goed weet hoe julle rondom julle ronde tafels in die nag konkel nie! Die veilingsagente is in kennis gestel dat die prys na R17.50 afgedruk gaan word en dan na R16.00. Die laaste keer wat ek op 'n veiling was, so 'n maand gelede was dit maar R15.50. Hier en daar het boere wat self voer nog klein hoeveelhede kalwers teen hoër pryse op veilings gekoop. Hulle koop egter nie genoeg om 'n werklike invloed op die pryse te hê nie. Soos ander reeds kommentaar gelewer het, is die probleem nie net by die aankoop-prys nie, maar veral by die verkoopprys. In die geval van lamsvleis het die winkelprys van lamsvleis eerder gestyg in Augustus toe die slagprys aan die daal was! Ek vermoed dit is dieselfde met beesvleis, want ek het in Woolworths gesien hulle verkoop "stewing beef" vir R 80.00/kg! Die gebrek aan respek wat die voerkraalbedryf openbaar teenoor die primêre produsente waarvan hulle besigheid afhanklik is, wys dat hulle dink hulle is onaantasbaar! Hulle vorm 'n konkoksie van die kleinhandelaar dwarsdeur tot by die veilingsagente, kry uitstel om te betaal, kry krediet teen onder prima rentekoers en daardeur kan hulle die individuele boere dwing om na hul pype te dans.Boere moet met duur kapitaal produseer sodat die middelvettes nog vetter kan word! Die 7.5% kommissie wat aan veilingsagente betaal word is ook nog 'n doring in die vlees, maar dalk nie vir hierdie gesprek nie.


mkruger

2012/04/20 08:38:39 AM

PieterK: Dit is waaroor die hele gesprek gaan. Die vryemark geld net by die verkoop van kalwers. By die herverkoop van daardie gevoerde beeste is daar geen vryemark nie want die pryse gaan net op en op.... Mens kan nie anders as om te wonder of die groot voerkrale nie almal aandele in die groot supermarkte het wat op die einde van die dag die vleispryse in die land bepaal nie.... As daar dan 'n oorskot vleis is, soos mnr Ford beweer, moet dit mos veroorsaak dat vleispryse goedkoper raak - dit is mos hoe die vryemark stelsel werk of hoe ? Een deelnemer aan die gesprek het gese dat 'n kalf 12 kg per dag eet in die voerkraal. Dit werk uit so 1080 kg oor 3 maande. Mnr Ford se voerkoste het met R1200 opgegaan. Wel ek weet nie van jou nie maar ek kan nie onthou dat enige boer 'n styging van R1200 vir sy mielies in die laaste jaar gekry het nie. En ja miskien is ons oningelig en lewer ons kommentaar sonder dat ons weet wat die feite is. So kom ons los die probleem op, gee ons die "behoorlike" antwoorde/feite op al die vra wat almal het en miskien leer ons almal iets. Tans lyk dit egter of daar weggeskram word en behoorlike antwoorde word nie gegee nie.


Onbekende besoeker

2012/04/19 05:00:48 PM

Dit lyk vir my of boere en verbruikers n probleem met groot voerkrale het.Jammer mnr.Ford maar dit lyk vir my of jy en die kleinhandelaars, boere en verbruikers uitbuit!


Pieterk

2012/04/19 04:26:34 PM

Ag asseblief mense. Ons koop en verkoop almal in n vryemark omgewing. Die voerkrale en boere bie almal teen mekaar op veilings. Hoe is dit dan moontlik vir voerkrale om pryse te beheer indien boere en backgrounders self op veilings koop. Geen boer is al ooit met n pistool teen sy kop gedwing om teen n vasgestelde prys kallers aan n voerkraal te verkoop nie. As hy dan so sterk daaroor voel dat die voerkrale saamspan kan hy mos altyd aan sy mede boere en op veiling sy beeste van die hand sit of hoe? Almal baklei oor die voerkraal pryse maar niemand sê iets oor die kommisie wat aan afslaers betaal word nie. net my 2c....


mkruger

2012/04/19 08:26:00 AM

Dankie vir u verduideliking mnr Ford. Enigste probleem is dat die verduideliking is of 'n versinsel of u dink die boere is te dom om 'n behoorlike verduideliking te verstaan. Kom ons aanvaar die mark/prys word deur vraag en aanbod bepaal. Hoekom daal die prys in die supermarkte nie agv die vraag en aanbod nie. Of het u 'n ooreenkoms met die supermarkte dat die daling wat agv die vraag en aanbod intree, eers oor drie maande sal intree. Maar hoekom as daar 'n styging in speenkalfpryse is styg die vleispryse in die supermarkte dadelik. OF...moet ons die supermarkte hiervoor blameer. 'n Slim man soos u, met jarelange ondevinding, moes mos gesien get toe die speenkalfprys so hoog geklim het dat hier gaan probleme kom en u moes ophou koop het en nie nou kla oor die voerkoste en ooraanbod nie. Januarie toe die speenkalfpryse so hoog was, was ons al amper aan die einde van die somer/droogte. Jammer maar 1+1 is nie 2 hier nie. Tensy u, met al u ondervinding, vir ons wil se dat tot u nie eintlik 'n idee het wat met die vleismark aangaan nie ?


LDV001

2012/04/19 07:19:00 AM

Voerkrale werk als uit: voerkoste, wat hul vir karkasse gaan kry ens. En dan kyk hul wat hul vir n kalf kan betaal sodat hul steeds winsgewind is.Op einde van die dag maak almal dieselfde som dit is hoekom pryse van al die krale dieselfde is. Vir elke 2kg wat n bees optel moet dit bv.12 kg voer eet per dag. jou voer kos jou R2.35 n kg dws R28.2 kg n dag. Bees sit 2 kg aan met uitslag van bv. 60% = 1.2kg vleis teen R 27 = R32.4 min voerkoste van 28.2 = R4.2 n dag per kalf.indien die kalf langer staan maak jy meer geld 140dae = R588 Teen 100 DAe 420


Onbekende besoeker

2012/04/19 06:30:06 AM

nou moet pickenpay, spar etc net hul pryse ook sak sodoende vraag te laat styg...


Onbekende besoeker

2012/04/18 08:01:58 PM

Dankie vir die verduideliking Ford, maar ek is nog nie oortuig dat daar nie agteraf oor pryse wat betaal word ooreengekom word nie.


Onbekende besoeker

2012/04/18 07:15:52 PM

Hoekom moet die kalwers nou langer gevoer word as die mielieprys styg? n Kg mielies bly n kg mielies al verander die prys.

Naam Kommentaar
E-pos
Tik in die nommers  

Kry ons op jou foon

Vind jou perfekte maat nou!

Ek is 'n:
Stel belang in:
Ouderdom: tot
Huidige
Ligging:
Wys net profiele met foto's

Teken in vir die nuusbrief

Teken in op Landbou se weeklikse nuusbrief deur jou e-posadres hier in te vul.

Lewende Hawe

Soort 08/05/13 15/05/13 %
Beesvleis A2/A3 2790c 2794c down 0.1
Speenkalf (lewend) 1594c 1583c down -0.7
Skaapvleis A2/A3 4328c 4374c down 1.1
Varkvleis (gem. prys) 1765c 1767c down 0.1
Braaikuikens 1478c 1483c down 0.3

Aandele

Pricecheck Flights