Prysontledings wys dat die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming onder markwaarde betaal vir grond wat herverdeel moet word.
Dit is ‘n aanduiding dat dit nie die gewillige koper/-verkoper beginsel is wat grondaankope belemmer nie, meen mnr. Athol Trollip, die DA se skaduminister vir landelike ontwikkeling en grondhervorming.
Die Departement het ‘n voorlegging aan die portefeuljekomitee vir landelike ontwikkeling en grondhervorming gedoen oor waarom hy die gewillige koper/-verkoper model ongunstig vir grondhervorming vind. Volgens die departement kon hy die afgelope 18 jaar slegs ‘n kwart van die geteikende 30% grond aan swart mense oordra.
Teiken van 30%
Die res van die minimum teiken van 30% sal hy in 54 jaar kan oordra, indien die huidige pas voortgaan. Sonder die fundamentele transformasie, soos vervat in die groenskrif op grondhervorming, sal die teiken nie bereik word nie.
Trollip het uitgewys dat die departement in sy verslag aandui dat hy per hektaar bo die markprys betaal vir grond wat vir restitusie aangekoop is. Dit terwyl prysonledings aandui dat hy onder markwaarde betaal het vir grond wat vir herverdeling bekom is.
Mnr. Stone Sizani, voorsitter van die portefeuljekomitee, het gesê die departement moet ophou om die gewillige koper/-verkoper beginsel as rede vir sy probleme voor te hou. Hy moet ‘n model ontwikkel om die grondhervormingsproses te bespoedig.
“Laat ons nie gronderosie en oorbeweiding in die bantoestans blameer nie. ‘Kry die mense daar uit en laat hulle na die Vrystaat, Wes-Kaap en ander provinsies gaan.”
24 Mei 2012