‘Staat kort stewiger veeartsenykorps’

Deur Carien Kruger
20 Maart 2017
Die staat se veeartsenykundige beperkings strem SA se vermoë om landbouprodukte na nuwe bestemmings uit te voer.

Suid-Afrika het hulpbronbeperkinge wanneer dit by die bedinging van protokolle vir marktoegang kom, sê me. Zanele Sanni, hoofdirekteur vir uitvoerbevordering en -bemarking by die Departement van Handel en Nywerheid,

Sy was ʼn paneellid by ʼn simposium wat die Nasionale Landboubemarkingsraad, die Landbounavorsingsraad en die Land Bank in Centurion aangebied het.

Die paneel het oor globale markte vir Suid-Afrikaanse landbouprodukte gepraat en me. Thabi Nkosi, landbou-ekonoom by die Openbare Beleggingskorporasie en moderator van die bespreking, wou weet hoekom Suid-Afrika nog nie die beloofde uitvoergeleenthede in die Midde Ooste kan benut nie.

Duur en lank om ooreen te kom
Sanni het gesê dit duur baie lank om oor die nodige protokolle met ander lande ooreen te kom. Sulke onderhandelinge vereis die vermoë om vinnig te kan reageer, die doen van baie toetse, en die indien van baie vorms. Volgens haar is daar in die Midde Ooste baie uitvoergeleenthede vir Suid-Afrikaanse voedselprodukte.

Mnr. Ezra Steenkamp, van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye se direktoraat vir internasionale handel, het gesê Suid-Afrika se landbou is relatief mededinging – sommige dele is báie mededinging en voer aggressief uit. Ander bedrywe was tot nou toe meer op die plaaslike mark gerig, soos pluimvee, vleis en groente.

Die internasionale pluimveemark is baie groot en in Amerika en die Europese Unie word sekere snitte verkies, sodat die ander teen laer as produksiekoste elders verkoop kan word.

Pluimveebedryf kan hom herposisioneer
Steenkamp het gesê die huidige situasie bied dalk ʼn geleentheid vir die Suid-Afrikaanse pluimveebedryf om homself te herposisioneer. Dit kan ook goed wees vir die groentebedryf om meer uit te voer, omdat die plaaslike vraag baie onelasties is. Uitvoer sal pryse gesond hou en boere meer volhoubaar, het hy gesê.

Volgens dr. Mono Mashaba, ʼn kenner van die vrugtebedryf, is vrugteboere wat nie uitvoer nie, nie volhoubaar nie. Sowat 60% van plaaslik geproduseerde vrugte word uitgevoer. Mashaba sê die bedryf werk deurlopend hard aan alle moontlike markte en besoek almal elke jaar, met die wete dat sommige van die voordele eers oor 20 jaar kan realiseer.

Bedryf moet kan aanpas
Volgens Mashaba verander omstandighede deurentyd en moet ʼn bedryf kan aanpas.

Nkosi wou weet of die staat genoeg inligting oor markte versamel om veranderinge te kan voorspel, onder meer rakende die Amerikaanse wet op groei en geleenthede (Agoa) en kwessies.

Steenkamp het gesê dit raak toenemend moeilik om globale veranderinge te voorspel en daarom is dit baie belangrik om Suid-Afrika se uitvoer te diversifiseer. Dit sal die land meer veerkragtig maak om skokgebeure te kan absorbeer.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels